Video
STILBAAI NUUS - In die beste van tye is dit 'n harde lewe om 'n kommersiële visserman te wees.
Grendeltyd het dié uitdaging in 'n ongenaakbare oorlewingstryd verander.
Volgens Francis, vrou van die bekende plaaslike visserman Attie Groenewald, is hulle aan 'n mark uitgelewer wat sê "Take my price or leave it."
Hul bekende boot, Overdraft gaan een maal per week see toe sodat die bemanning ten minste 'n geldjie kan verdien.
Hulle kan ook vis huis toe neem om kos op die tafel te sit.
Dít het die Groenewalds laat besluit hulle kan behoeftiges help uit die oorvloed van die see, al loop besigheid nie soos altyd nie. Maandagaand 13 April is Overdraft omstreeks 18:00 see toe en die bemanning het deurnag gevang. Attie vertel: "Die vis wou nie byt soos hulle moes nie, maar vroegoggend het hulle skielik wakker geword."
Toe Overdraft ongeveer 10:30 die oggend van Dinsdag 14 April na die hawe terugkeer, het hulle 270 kg vis saamgebring.
Die pragtige vangs is skoongemaak en opgesny en aan Hessequa-munisipaliteit geskenk om in versorgingsoorde aan behoeftige bejaardes uit te deel. Uitvoerende burgemeester Grant Riddles, rdl. Ben Smith en Rennie Davids het dit namens die raad in ontvangs geneem.
Volgens Smith is hulle baie dankbaar vir die harte van Stilbaai se mense, wat selfs in swaarkrytye aan ander dink.
Kyk 'n video hieronder:
Van links is Rennie Davids, Nico Manho, Ernie Manho, Attie Groenewald, rdl. Ben Smith en rdl. Grant Riddles. Foto's: Deona Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'