Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - "Dis gedane sake. Jy kan nie vir die see voorskryf nie. Ons gaan nou herstelwerk doen en Desember kom ons vakansiehuis toe."
Dis die pragmatiese uitkyk van die Van Dyks na die woeste see Saterdag dwarsdeur die onderste verdieping van hul familiewoning, voor op die rotse by Jongensfontein, gebars het.
Die fratsgolwe het Jongensfontein hard geslaan, en in Stilbaai is ook groot skade aangerig.
Bankies en braaiplekke tussen die hawe en Morrispunt is met beton en al uit die grond gepluk en meters ver gegooi.
By skuitpad is reusesementblokke van 3 meter lank losgeruk en aan die anderkant van die pad neergegooi.
Stilbaai-vismark op die hawe het erg deurgeloop en die water is dwarsdeur die gebou. Sondag was Ruan Smit besig om die dik sand uit die vismark te skraap en vee. Gelukkig kon hulle darem meeste van hulle toerusting red.
Net duskant die vuurtoring is die hawemuur ook beskadig, maar die hawebestuur het Vrydag reeds die vissersbote na 'n veiliger gebied laat skuif en was daar geen skade nie.
Stappers by Jongensfontein was egter nie so gereed vir die rowwe see nie en twee van hulle motors is by die getypoel die see ingesleep en het soos kurkproppe rondgedobber voor die see hulle teen die rotse flenters geslaan het.
'n Stapper van Kaapstad het darem tyd gekry om af te hardloop na haar motor om haar huissleutel te gryp en het deur die kantvenster uitgespring net voor haar motor meegesleur is.
Man red Range Rover
Die see het egter nie kans gekry om 'n Range Rover wat daar gestaan het in te sluk nie. Clifton Donald van Stilbaai het tydens sy staptog nuus gekry dat sy voertuig by die getypoel in gevaar is.
Die polisie wou nie toelaat dat hy afgaan nie, maar hy het gehardloop en in sy motor gespring. Hy kon die oorstroomde motor aan die gang kry en - soos hy teen die skuinste uitgejaag het - kon hy die wate in sy truspieël sien kom.
Was hy sekondes later daar was sy voertuig die see in. Hy het sy motor ordentlik gewas en drooggemaak en moet nou net die duike en skrape in die bakwerk laat herstel.
Die stormsee het die getypoel se parkeerterrein heeltemal uitmekaargeruk en die braaiplekke met hulle bankies is eenvoudig uit hulle betonfondasies geruk en verwoes.
Voertuie by Jongensfontein is fyn en flenters teen die rotse geslaan.
Tweede keer in 70 jaar
Die Van Dyks se huis op die rotse, enkele meters van die see en 'n landmerk in Jongensfontein, staan al vir die afgelope 70 jaar daar en Saterdag was dit die tweede keer wat water deur hom is.
Die huis is 'n familiewoning wat die vier Van Dyk-kinders geërf het toe hulle pa oorlede is. Met die Forum se besoek Maandag was een van die kinders, Jaco, wat in die Kaap woon, en sy broer Johan se vrou, Marjo, besig met opruimingswerk. Marjo en Johan boer buite Heidelberg, terwyl Johan en Jaco se twee susters albei in die Kaap woon.
Die water is regdeur en om die huis en het aan die agterkant 'n buitegebou flenters geslaan. Gelukkig was niemand tydens die storm tuis nie en het Marjo en haar man Saterdag soontoe gejaag toe hulle hoor daar is probleme. Hulle kon egter niks doen nie en net hulpeloos toegekyk. Die meubels het gestrooi gelê buite die huis, met net die boonste verdieping wat gespaar is.
Marjo sê haar 22-jarige seun was in gr. 1 toe die water die vorige keer deur die huis is, maar dit was nie naastenby so verwoestend soos Saterdag nie.
Die familie het kort voor die storm begin met restourasiewerk en moet nou van voor af begin en ook die skiade herstel.
Wes en oos soos nag en dag
John Wills, voorsitter van die Jongensfontein Inwonersvereniging, sê om van die oostekant na die westekant te beweeg was Saterdag soos om in 'n ander wêreld te wees. Aan die oostekant was die see rof, maar die wind glad nie so sterk nie. Die skade daar was beperk tot twee of drie klein substasies, ligte skade aan 'n paar huise en geen skade aan die karavaanpark soos wat mense op sosiale media beweer het nie.
Aan die westekant was dit egter 'n ander storie. Hy het op die teerpad bokant die getypoel gestaan en die golwe was 18 tot 20 m hoog. Die braaiplekke is uit hulle fondamente geruk en die bankies is opgefrommel. Twee skadu-afdakkies wat hulle opgerig het, is skoonveld en die parkeerterrein is flenters geslaan.
Ruan Smit van die Stilbaai Vismark besig om op te ruim na branders deur die gebou gespoel het. Foto's: Johan Victor
Hessequa-muni geloof
Daar is geweldig baie werk en die vakansieseisoen is om die draai. Wills sê hulle gaan nou eers 'n opname van die skade maak. Hulle het binne 'n paar uur 10 jaar se harde werk verloor en het die vereniging baie geld spandeer om die gebied te ontwikkel.
Wills loof die Hessequa-munisipaliteit en kan inwoners die munisipaliteit nie genoeg bedank vir wat hulle gedoen het om alles weer so vinnig as moontlik so normaal as moontlik te kry nie.
Die elektrisiteit moes herstel word en sand, rotse en ander rommel moes van die paaie afkom. Die munisipaliteit het egter dadelik ingespring en was reeds Saterdag besig met herstelwerk en om op te ruim.
Photo: Margo Vader, Jongensfontein
VERSKAFDE VIDEO - Robyn Gartsman, Vleesbaai:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’