STILBAAI NUUS - 'n Vyfjarige seuntjie het Saterdag 22 Februarie die plaaslike nooddienste op hol gehad toe hy in die Preekstoel-omgewing vermis geraak het.
Volgens kapt. Johan van Tonder (stasiebevelvoerder) was hy saam met sy gesin van Riversdal op 'n uitstappie om 'n verjaarsdag te vier.
Die kind het saam met sommige van die volwassenes gaan swem, maar bang geword vir die branders.
'n Ooggetuie het hom op 'n duin sien speel.
Teen 09:00 het Johanna Barnard hom as vermis aangemeld. Van Tonder sê die polisie het dadelik 'n soektog in die omgewing begin.
Die dorp se buurtwagte was met opleiding besig en hulle het ook daarby aangesluit, asook die NSRI. Willem Bouwer het vanuit sy privaatvliegtuig 'n lugsoektog geloods. Die Hessequa-nooddienste onder leiding van Adneshel Vos het ook by die groep van ongeveer 50 mense aangesluit.
Ten spyte van reën wat teen 13:30 begin uitsak het, het die onderskeie soekgeselskappe volhard in die koue en nat toestande.
Om ongeveer 14:30 is speurder ao. Tekkie Grebe deur Albertinia-polisie in kennis gestel van 'n seuntjie wat by een van die vakansiehuise, ongeveer 8 km vanaf Preekstoel in die rigting van Gouritsmond aangekom het. "Die eienaar van die huis, Hennie van Rensburg het hom dadelik oor die kind ontferm en vir hom kos en warm klere gegee, aangesien hy net in swemklere geklee was. Konst. Marius Witbooi en die kind se pa, John Julies het hom toe op Rietvlei gaan haal."
'n Spanningsvolle Saterdag het tot 'n gelukkige einde gekom met 'n kind wat veilig aan sy ouers terugbesorg kon word én lekker reën," sê Van Tonder. Hy bedank elkeen wat by die soektog betrokke was en reken dis 'n voorreg om deel van 'n gemeenskap wat so vir hul medemens in nood omgee, te wees.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'