Update
STILBAAI NUUS - 'n Deeglike kennis van regte, magte en wetlike gesag is een van die sleutels tot suksesvolle buurtwagte.
Só sê Pieter Lategan, hoof-koördineerder van buurtwagte op dié kusdorp.
Die eerste in 'n reeks opleidingslesings is Saterdag 22 Februarie in die NG kerk Stilbaai-Oos kerksaal aangebied.
Volgens Lategan het 44 lede bestaande uit die Stilbaai subforum-plaaswag, die buurtwagte van Jongensfontein, Melkhoutfontein en Stilbaai, asook waarnemers van die Stilbaai AfriForum-buurtwag deelgeneem.
Die aanbieder was prof. Coen Marais, koördineerder van die Kloofsig-buurtwag op die dorp. Die lesings is by die South African Qualifications Authority (SAQA) geakkrediteer, maar is ook op versoek van prof. Marais deur sy oudkollegas by Unisa nagesien en opdateer.
Lategan verduidelik dat burgerlikes ingevolge die bepalings van die Strafproseswet aktief aan wetstoepassing kan deelneem. Die kursusgangers is onder meer oor hul reg om arrestasies vir sekere misdade uit te voer, die ses vereistes waaraan voldoen moet word en die prosedures om die persoon voor die hof te bring, ingelig. Die uitvoering van patrollies het ook aandag gekry en klem is op buurtwaglede se taak om die oë en ore van die plaaslike polisie te wees, gelê.
'n Reeks lesings oor die neem van verklarings word vir later in die jaar beplan.
Na afloop van die kursus het sommige lede op versoek van kapt. Johan van Tonder (bevelvoerder Stilbaai-polisie) by die soektog na 'n vermiste kleuter in die Preekstoel-omgewing aangesluit.
Die kind is later die middag ongedeerd gevind.
Lees 'n vorige artikel: Stilbaai-buurtwagte leer meer
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'