ALBERTINIA NUUS - Sewe jaar nadat 'n vrou van Albertinia tydens 'n nagmerrie-ondervinding deur twee mans deurnag aangehou en verskeie kere verkrag is, het een van die beskuldigdes homself uiteindelik in die lang arm van die gereg vasgeloop.
Die eerste beskuldigde, Jason Smit, dien reeds 'n vonnis van 20 jaar uit nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Die tweede beskuldigde, Henry Solomons, het volgehou dat hy niks met die ontvoering, verkragting en ernstige aanranding van die slagoffer, Roshney Ntozini (27) te doen gehad het nie.
Solomons is ná 'n jare lange hofstryd die afgelope Vrydag in die Thembalethu-landdroshof in George skuldig bevind op al die aanklagte teen hom. Ntozini, wat slegs 20 jaar oud was tydens die wrede voorval op 16 Mei 2016, het aan die media toestemming verleen om haar identiteit bekend te maak.
Gedurende die getuienis, het die hof gehoor dat Ntozini op die aand van die voorval saam met 'n vriend langs die N2 duskant Mosselbaai in die rigting van Albertinia duim gegooi het.
Die beskuldigdes het te voet verskyn, Ntozini ontvoer en haar langs die pad gesleep. Hulle was met onder meer 'n mes gewapen en het haar en haar vriend gedreig.
Haar vriend het daarin geslaag om weg te kom en het hulp ontbied. Ntozini is intussen na 'n woning naby 'n sekondêre skool duskant Riversdal ontvoer waar sy deur die nag aangehou en verskeie kere verkrag is.
Sy kon egter daarin slaag om te ontsnap toe die beskuldigdes na 'n buurhuis is om koffie te kry en haar saamgevat het.
Dié saak, wat deur die hande van menige aanklaers was, is die afgelope sewe jaar verskeie kere uitgestel omdat Solomons en Smit gedurig hulle weergawes verander het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’