Die doel hiervan was om 'n boodskap van 'n verenigde front van samewerking aan die gemeenskap uit te dra. 'n Opvoedkundige en insiggewende uitstalling is aangebied. Die polisie, beskermingsdienste met insluiting van verkeers- en wetstoepas-singsdienste asook rampbestuur, die brandweer, 'Werk vir vuur' en die ambulans-, noodredding- en forensiese dienste het kragte saamgespan om hul werksaamhede uit te beeld.
Die verkeersdepartement se legendariese Harley Davidson motorfiets het ook aandag getrek, terwyl die Daantjie Kat-pak 'n treffer was onder die jongspan. Skougangers kon hul bloed-alkoholvlakke laat toets, die gevreesde spoedkamera en sensorkabels van naderby beskou en inligting bekom oor die agentskapdiens wat by die verkeerskantore aangebied word. Die toerusting en prosedure vir die vang van losloperdiere is ook vertoon en verduidelik. Dienste tydens rampe is verduidelik en kon skougangers alles van na-derby beskou.
Die brandweer en 'Werk vir vuur'-uitstalling het die fokus geplaas op die fisiese en uitputtende werk waaraan hierdie manne- en vroue blootgestel word as hulle letterlik en figuurlik in die spervuur is. Min mense besef dat die beskermde kleredrag wat brandweerpersoneel dra, 21kg weeg en dat die brandslaners daarmee saam nog 20kg op hul rug dra as hul op 24-uur skofte uitgeplaas word. Die ambulans-, noodeenheid en forensiese spanne werk baie nou saam.
Die nuutste toerusting om mense uit voertuigwrakke tydens ongelukke, asook ander noodsituasies te red is uitgestal en prosedures is deeglik verduidelik. Selfs die toerusting en apparaat wat in nadoodse ondersoeke gebruik word was deel van die uitstalling.
Die polisiestalletjie het al die euwels van ons tyd uitgebeeld met 'n dringende boodskap 'Don't do drugs'. Die Hessequa-streek is bevoorreg om al hierdie dienste tot voordeel en veiligheid van plaaslike inwoners en besoekers te hê en is baie trots op elkeen in uniform. Die een kan nie sonder die ander nie en die inter-departementele samewerking maak van die nooddienste 'n wenkombinasie.
(Uitgereik deur die Hessequa munisipaliteit).

Verkeersbeampte C Roman, hoof: beskermingsdienste A. Voss en wetstoepassingsbeampte R Witbooi. Foto's: Susan Vosloo

Rdl. Emor Nel saam met die onderskeie verteenwoordigers van die verskillende nood- en beskermingsdienste tydens hul uitstalling.