HESSEQUA NUUS - Die Duineveld-kusvereniging, wat eienaars langs die kus tussen Stilbaai en Gouritsmond verteenwoordig, gaan 'n wetenskaplike ondersoek begin om te kyk na die wenslikheid van 'n ooswaartse uitbreiding van Stilbaai se mariene beskermde gebied.
Die vereniging se jaarvergadering het in Desember hierop besluit nadat Jean du Plessis, streekbestuurder van Kaapse Natuurbewaring op Stilbaai, kommerwekkende feite oor die agteruitgang van visvang langs die Suid-Afrikaanse kus voorgelê het.
Volgens die vereniging se besluit moet die studie kyk na watter plekke 'toe, oop of half-oop' moet wees ten einde visbronne te beskerm.
Du Plessis het verwys na verskeie onlangse studies wat met metings en opnames bevind dat die visvang die afgelope 30 jaar beduidend verswak het. Dit neem vir 'n hengelaar veel langer om 'n gesogte vis te vang en minder vis word gevang. Trouens, een opname wys meer as die helfte van visvangpogings loop op niks uit nie.
Du Plessis het syfers aangehaal van 'n deeglike studie waaraan bykans 4 000 hengelaars oor 'n tydperk van twee jaar in die Goukamma-gebied deelgeneem het. Twintig jaar gelede is gemiddeld 0.2 vis per hengeluur gevang, en nou is dit 0.1. Dit neem nou 'n hengelaar gemiddeld nege uur om sy gesogte soort vis uit te trek.
Daar is nie minder nie as 22 faktore wat die welstand van Suid-Afrika se mariene lewe bedreig. Dit sluit in oormatige vangste, verskeie soort besoedeling, geteikende visvangmetodes wat dan ander spesies ook vernietig en beskadiging van die seebodem.
Sowat 550 spesies vis, wat aan sewe soorte visvang onderworpe is, word deur sulke faktore bedreig.
Du Plessis het gesê dat daar egter goeie nuus is as ons verstandig te werk gaan. Die mariene beskermde gebied by Stilbaai het in 10 jaar vir ons gewys dat die visbevolking gestabiliseer kan word. 'n Mens sien soms hengelbootjies lê presies op die seegrens van die beskermde gebied, want dis waar die vis vandaan kom.
Stilbaai se mariene beskermde gebied het basies twee gedeeltes, 'n 'toe' deel waar volstrekte beskerming toegepas word, en 'n 'oop' deel waar gehengel kan word en net sekere beperkings geld.
Die redelik ongeskonde kusstrook tussen Stilbaai en Gouritsmond is ryk aan mariene lewe. 'n Steekproef het gedui op 'n enorme diversiteit van organismes, tot 30 spesies per vierkante meter op plekke in die getysone.
Dit is dus 'n gunstige omgewing as daaraan gedink word om Stilbaai se mariene beskermde gebied uit te brei. Volgens Du Plessis is hier drie keuses: Om te kyk na 'n bewaringsgebied, of 'n formele mariene beskermde gebied, of om niks te doen nie.
Die Duineveld vergadering is in die nuwe konferensiesentrum van Gourikwa-natuurreservaat gehou.
Kommentaar van Hessequa-munisipaliteit se omgewingsbestuur afdeling
Hoewel die aangeleentheid nie 'n munisipale mandaat is of onder die munisipaliteit ressorteer nie, ondersteun die munisipaliteit enige voorstel vanaf CapeNature rakende die aangeleentheid, veral indien dit gegrond is op goeie wetenskaplike beginsels.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'