STILBAAI NUUS - Veiligheid en sekuriteit in Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein is almal se verantwoordelikheid.
Stilbaai en omgewing het 'n reputasie as 'n ordelike, vriendelike en veilige dorp waarheen Suid-Afrikaners en buitelanders uitwyk vir 'n gemaklike aftrede, gesinsvakansie of om 'n nuwe huis op te rig soos hulle wegbeweeg van die gejaagde stadslewe.
Dit is grotendeels te danke aan die aktiwiteite van 'n paar organisasies wat oor die jare aktief betrokke is by die instandhouding van hierdie veilige omgewing. Die kern van die aktiwiteite word deur die plaaslike polisie gedryf.
Die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Stilbaai se buurt- en -plaaswag en ander groepe soos die Stilbaai-sakekamer, Stilbaai-toerisme, die Stilbaaibelangeforum en meer onlangs die uitgebreide vestiging van 'n omvattende kameranetwerk wat nou bekendstaan as die Stilbaaisekuriteitsnetwerk.
Die buurtwaglede is vrywilligers wat die polisie en GPF ondersteun met patrollies in hulle eie tyd op eie onkoste. Dag en nag is hulle die oë en ore vir die polisie en soms tree hulle op as gemeenskapveiligheidspersoneel in tye van rampspoed.
Ervaring het bewys dat nuwe metodes nodig is om die styging in koste van enige sekuriteitsaktiwiteit teë te werk. Daar is ook die bedreiging van groeiende risiko vir ons dorpe.
Vir hierdie doel word 'n sentrale beheer-kamer by die Stilbaai-polisiekantoor opgerig, wat beman sal word deur buurt-waglede in samewerking met die polisie.
Dit sal die LPR en oorsigkamera se rekenaar, radio, selfoon en internet-kommunikasie huisves, sowel as monitors vir elke kamera in die omgewing.
Dit is relevant en belangrik om daarop te let dat al die toerusting wat gebruik word vir die oprig en bedryf van die tientalle kameras tot dusver betaal is deur skenkings van sommige organisasies en inwoners van hierdie dorpe.
Tot dusver is meer as R1 000 000 reeds bestee aan die meer as 50 kameras wat reeds geïnstalleer is.
Die volgehoue instandhouding van die kamera-installasies vereis deurlopende finansiering en die tegniese infrastruktuur in die beheerkamer het 'n punt bereik waar aansienlike fondse benodig word.
Dit gaan R30 000 kos om die bestaande IT-toerusting te verskuif van Coastal Security na die beheerkamer en spesifieke bykomende monitors en kommunikasietoerusting moet aangekoop word.
Vir die UPS-stelsel om 24/7 bedrywighede te verseker word R25 000 benodig en dan gaan die deurlopende bedryfsuitgawes R2 500 per maand wees.
Hierdie projek word onderneem deur die Stilbaai-buurtwag en die geregistreerde nie-winsgewende organisasie, die Stilbaai-sekuriteitsnetwerk, wat hierdie geld moet insamel om die stelsels aan te koop en te aktiveer.
Komaan Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein, sê vrywilliger Richard Webb, 'n inwoner van Stilbaai.
"Kan jy rand en sent koppel aan die veiligheid van jou besigheid, woning of gesin? Ondersteun die Stilbaai-buurtwag en maak 'n donasie. "Moenie dink dat jou bydrae baie min is nie. As almal saamstaan en iets gee kan dit net die verskil maak waarna ons almal smag en dit is 'n veilige omgewing vir jou besigheid, woning en jou gesin," aldus Webb.
Enigeen wat graag 'n donasie wil maak of wil help, kan Richard Webb by 082 902 9098 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’