HESSEQUA NUUS - Die ou Afrikaanse spreekwoord sê: "Gekke en dwase skryf hul name op deure en glase."
Al die dorpe in die Hessequa-streek loop periodiek onder vandalisme deur. Dit veroorsaak groot frustrasie en onkoste en die oorsake vir dié gedrag is nie eenvoudig nie. Talle faktore speel 'n rol en nie almal is polities van aard nie.
Wie beskadig monumente, breek asblikke van lamppale af, ontsier straatnaamborde, breek grafstene en so meer?
Soms hoef niks verder as verveelde kinders wat die grootste deel van hul tyd in die strate deurbring, gesoek te word nie. Hulle ken nie konstruktiewe uitlaatkleppe vir hul energie en opbouende frustrasies nie. Voeg groepsdruk, 'dares' en woede by en daar is 'n wenresep vir vernielsugtigheid. Die beskadiging van eiendom wat met gesagstrukture gepaardgaan bied aan hulle korttermyn ontlading van opgekropte gevoelens.
Kinders wat nie kreatief en intellektueel gestimuleer word nie en boonop van jongs af vir die grootste deel van die dag aan hulself oorgelaat word, begin mettertyd 'gesigloos' voel. Hulle kry nie kans om 'n gesonde selfbeeld te vorm nie en vandalisme lyk vir hulle na 'n manier om hulself uit te druk sodat hulle ook raakgesien en onthou sal word. In Engels staan die verskynsel as 'acting out' bekend.
Die maatskaplike kwessies waarmee Suid-Afrikaners worstel veroorsaak ongelukkig ook in sommige gevalle beskadiging van eiendom met 'n suiwer politieke en polariserende oogmerk.
Volgens Deon Lewis (bestuurder regsdienste: Hessequa-munisipaliteit) bepaal die munisipale verordening insake openbare geriewe en spesifiek artikel 12(1)(b)(i) dat vandalisme as 'n verbode gedrag geklassifiseer word. Dis strafbaar met 'n boete van R3 000. Die wetstoepassingsafdeling sal die boete aan 'n oortreder uitreik, waarna hy/sy die keuse het om die boete te betaal of om in die hof te verskyn. Indien die saak tot in die hof bevorder word, sal die munisipaliteit die staatsaanklaer nader om die hof te versoek vir 'n vergoedingsbevel teen die beskuldigde.
Vandalisme is ook 'n kriminele oortreding in terme van die Strafproseswet.
Die onlangse vandalisering van die monument in Riversdal se Jurischpark is by die plaaslike polisie aangemeld onder saaknommer 0B1597/10/2019. Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte by 028 713 8500 kontak.
Volgens Marina Griesel (direkteur: korporatiewe bestuur) beoog die munisipaliteit om binnekort met herstelwerk aan die monument te begin.
The reasons for vandalism are as varied as the targets. While some malicious acts of damage to property are politically motivated, many other factors such as boredom, frustration, anger, a desire to be noticed and peer pressure among kids play a role. Vandalism is prohibited by municipal ordinance and carries a fine of R3 000. It is also a criminal offense.
Vandalisme wat vroeër die jaar langs Hoofweg-Oos op Stilbaai gepleeg is.
Die ontsierde monument in Jurischpark.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'