Update
WITSAND NUUS - Hessequa-munisipaliteit, wat gesoek het na innoverende idees en beleggings, is sowat 'n jaar en 'n half gelede deur prof. Erwin Schwella met 'n Franse ingenieur, Patrice Boyer, in verbinding gebring.
Hy was van mening dat Boyet net die regte persoon was om mee te gesels. 'n Paar maande later, in Julie vanjaar, word die eerste sonkrag aangedrewe ontsoutingsaanleg in Suid-Afrika by Witsand geloods met Boyet as projekbestuurder. Dinge het begin gebeur.
Die munisipaliteit het op 'n openbare vergadering op 23 Augustus inwoners en belangstellendes in die Witsand-gemeenskapsaal breedvoerig ingelig oor wat die beoogde ontsoutingsaanleg eintlik behels. Die mikpunt was om dit einde Oktober af te handel. Die Franse en Wes-Kaapse regering het hulle verbind om R9 miljoen in die projek te belê.
Drie maande later, op Donderdag 13 Desember trek almal weer saam op die oewer van die Breederivier, op 'n perseel wat plaaseienaar Gielie de Kock beskikbaar gestel het: Die werkspanne van Boyet, die ministers van die Wes Kaapse provinsiale regering, 'n verteenwoordiger van die Franse regering, amptenare van die munisipaliteit gemoeid met die projek, Cape Environmental Assessment Practitioners se mense en raadslede. Hulle kyk toe hoe Wes-Kaapse minister van ekonomiese sake, dr. Ivan Meyer 'n glasie water, getrek uit die Breede rivier en deur die ontsoutingsaanleg gesuiwer, met een teug wegslaan. Vir die eerste keer in die geskiedenis van dié kusdorpie sal inwoners en vakansiegangers hul krane kan oopdraai en die water net so kan drink.
Wat maak hierdie aanleg so besonders?
In teenstelling met die ander ontsoutingsaanlegte in die provinsie word Witsand se aanleg deur sonkrag aangedryf.
Hier sal jy geen dik rookwolke uit die masjienkamer die lug sien opstyg nie - danksy die Frans-ontwerpte Osmuson tegnologie. Ontwikkel deur die Franse maatskappy, Mascara Renewable Water en bemark in Suid-Afrika deur TWS-Turnkey Water Solutions, is hierdie die wêreld se eerste omkeerbare osmose ontsoutingstegnologie wat met sonkrag werk, en nie met batterye nie. Ander ontsoutingsaanlegte is baie energie-intensief; baie 'fossil-fuel' word gebruik wat die lug geweldig besoedel en sodoende klimaatsverandering bevorder.
Met hierdie aanleg teken Hessequa-munisipaliteit en Witsand terselfdertyd 'n groot punt aan in die stryd teen klimaatsverandering en vir die bewaring van die omgewing, waterlewe en plantegroei.
Lees 'n vorige artikel hier: Ontsoutingsaanleg getoets.
Van links is Johan Jacobs (munisipale bestuurder), Dennis Joseph (lid provinsiale wetgewer), dr. Ivan Meyer (minister van ekonomiese sake), die Franse verteenwoordiger, Grant Riddles (uitvoerende burgemeester), Johannes Hartnick (onderburgemeester), min. Donald Grant, Harold Basson (direkteur tegniese dienste) en prof. Erwin Schwella van die Universiteit Stellenbosch. Foto's: Alex Marshall, korrespondent.
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'