Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Al ooit getwyfel of dooie hout weer enige lewe kan kry?
Suid-Kaap Forum het by die Stilbaai Houtwerkgroep gaan kers opsteek en was verstom oor die resultaat.
Pieter van Niekerk is 'n man met 'n groot passie vir houtwerk. Hy is een van dié groep se stigterslede wat teen die einde van 2019 gestig is. Die groep bestaan uit ongeveer 14 lede. Volgens hom het hulle normaalweg een keer per maand bymekaargekom, elke keer by 'n ander lid se werkswinkel sodat hulle idees kan uitruil en na mekaar se werk kan kyk.
"Die grendeltyd het ongelukkig almal maar by die huis laat werk. Wanneer een van die lede 'n houttekort het, ruil hulle uit. Daar is baie kennis in die groep beskikbaar en beginners kan baie by die deurwinterde lede leer," verseker hy.
Kyk 'n video hieronder:
Pieter van Niekerk
Sy werkswinkel is op die idee van die French Cleat-stelsel gebaseer, wat behels dat ‘n rak teen die muur met ’n cleat vasgeheg word. Dit het ‘n 45-grade snit wat dan op die rak herhaal word. Die rak haak dan net aan die cleat en siedaar, jy het ‘n verwyderbare rak. Franse skeepsbouers het dit in die ou houtskepe gebruik. Al sy masjiene is op wiele monteer, wat die vryheid bied om dit rond te skuif en selfs plek maak vir die motor saans wanneer hy klaar gewerk het.
Die werkswinkel is in verskeie dele opgedeel, onder andere ‘n draai-afdeling, herlaaistasie, lugdrukgereedskap, skuurstasie, mitrestasie, handgereedskap en elektriese handgereedskap. Die werksbank en tafelsaag verskuif na die kant met toemaaktyd.
Op die oomblik is hy besig met twee skaakstelle vir ’n kleinseun en -dogter, onderskeidelik in Bloemfontein en Mosselbaai. Die bord is van afromosia, embuia en kiaat en die figure van olienhout, embuia en ysterhout, geelhout, asook Tasmaanse eikehout. “Die geelhout is van ‘n oortollige tak uit my dogter se tuin wat ek in die mikrogolfoond gedroog het en die Tasmaniese eikehout van stompe wat uit die see gespoel het,” vertel hy.
Tjaart van der Walt
Hy is ‘n afgetrede argitek wat sy stokperdjie uitleef en maak onder andere skryfpenne wat van hout gedraai word. Verskeie ander produkte is spoggerig op sy rakke uitgestal.
Sy goed toegeruste werkswinkel beskik ook oor ‘n moderne uitsuigstelsel en hy verskaf saagsels aan sy bure vir kompos.
Tjaart van der Walt
JD Crawford
Hy is ‘n vermaarde towenaar met hout en het al ‘n boor by die tydskrif Popular Mechanics met een van sy produkte gewen.
Sy speelgoed van hout laat mens in verwondering oor die vindingrykheid en sy skeppingvermoë.
Hy het verskeie toestelle vervaardig wat hom help om sy passie uit te leef en is besig met ‘n skaalmodel-motor waarvan die houtwiele se speke 0,6 van een millimeter is.
JD Crawford
Hannes Birmingham
Hy is een van die stigterslede en het ook die houtwerkstalletjie by die Brugmark.
Hy is welbekend dat hy sy produkte direk van boomstompe maak.
Hy maak ook juweliersware van hout en vlekvrye staal en is ’n staatmaker as een van die lede meganiese hulp benodig.
Hannes Birmingham
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'