Update
STILBAAI NUUS - Werner du Toit van die kusdorp, is hierdie jaar as een van die 'Onthoukokke' vir kykNet se Kokkedoor-realiteitsprogram gekies.
Vir naaste vriende en familie was die feit dat hy vir hierdie program gekies is, geen verrassing nie.
Meeste Stilbaaiers sal dalk egter verras wees om hom in Julie op die kassie te sien, aangesien hy meestal op boupersele of op 'n stellasie met skrynwerk besig is.
Werner het saam met sy broer en suster by Keurboomsrivier grootgeword, waar sy ouers Strandmeer-karavaanpark begin het. Hy het reeds van vroeg in hul winkel gehelp om die wegneemetes vir kampeerders te maak. Sy pa het later die karavaanpark ontwikkel en het Werner hom in die boubedryf gehelp, waar hy van bou-, staal- en loodgieterwerk geleer het, wat vandag steeds sy beroep is. Hy het ook 'n passie vir houtwerk en geniet dit om doelgemaakte meubels en houtwerk te vervaardig.
Vra hom hoe hy homself sal beskryf en hy antwoord met 'n stoute glimlag: "Ek is 'n meerjarige, minderharige alternatiewe Suid-Afrikaner."
Werner het 'n paar jaar in Mosambiek 'n lodge bestuur en was met die plaaslike manier van kosmaak gefassineer. Na hy twee jaar in België gewerk het, het hy homself in Stilbaai kom vestig, waar hy saam met sy meisie en drie honde, Fondant, Fiela en Flooi bly.
Sy vriende beskryf hom as 'baie snaaks, hardwerkend, sensitief, maar soms ook hardkoppig.'
"Ek het nog altyd 'n liefde vir kosmaak gehad en is lief daarvoor om met nuwe geure en vars kruie uit ons tuin te speel. Ek kry lekker tot in my tone as ek sien hoe mense my kos geniet."
Werner sê hy wou nie oorspronklik vir Kokkedoor inskryf nie en het sy inskrywing eers 10 minute voor die afsnytyd ingestuur. "Ek was baie verbaas toe ek vir die oudisie in Kaapstad gekies is. Ek is daar toe ook na die volgende ronde deur, waar ek vir die eerste keer 'n soufflé moes maak," vertel hy.
"Ek en twee ander dames in ons groep het toe weer na die volgende fase deurgedring. Daarna het die lang wag begin om te hoor wie gekies is," sê Werner.
Hoewel hy nou nie veel mag verklap van wat agter die skerms in die Kaap, waar dié jaar se Kokkedoor-reeks verfilm is, gebeur het nie, sê hy dat dit baie insiggewend was en 'n ondervinding wat hy lank sal onthou.
Oor sy toekomsplanne verklap hy nie veel nie. "Ek beplan om nou en dan my passie in die kosbedryf tydens 'n paar geleenthede uit te leef en dan gaan ek en my meisie oor drie maande die Camino in Spanje stap. Ek sien baie daarna uit om meer van hul plaaslike disse te leer. "
Die realiteitsprogram Kokkedoor begin op 18 Julie op kykNet, kanaal 144.
Lees 'n vorige artikel hier: Van bou tot bak
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'