RIVERSDAL NUUS - Dit gons in Hessequa ná die nuus dat 'n oudburgemeester en ANC-hoëkop van die streek en 'n veldwerker van die McGregor-munisipaliteit albei gister vlugtig in die plaaslike landdroshof op 21 aanklagte van beweerde bedrog en korrupsie verskyn het.
Christopher Philip Taute (62), 'n wyksraadslid vir wyk 8 in Riversdal, en Claudio Conradie (36), is albei op borgtog van R10 000 met voor-waardes vrygelaat.
Beide beskuldigdes is beveel om nie met die getuies in die saak teen hulle in te meng nie.
Die twee is Dinsdag aangekeer ná 'n uitvoerige ondersoek deur die Valke se gespesialiseerde eenheid vir handelsmisdaad.
Conradie is destyds deur Hessequa-munisipaliteit aangestel om kandidate vir 'n internskap vir vaardigheidsontwikkeling te werf. Die kandidate, afkomstig uit Stilbaai en Riversdal, het glo elkeen 'n maandelikse toelae van R4 500 gekry.
Conradie, wat in daardie stadium die bestuurder van die Hessequa Social Club Youth Development was, het na bewering die kandidate aangesê om R1 500 van dié toelae in die bank-rekening van Taute se Good to Share Foundation in te betaal.
Twee van die kandidate, albei vroue, het glo in totaal R35 000 in Taute se rekening inbetaal.
Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê in 'n nuusverklaring dat Taute en Conradie se tweede skema wat deur die Valke ondersoek is, is by 'n gemeenskaps- en vaardigheidsontwikkelingskonsultant (ORE), waar Lucinda Pieterse glo as 'n administratiewe klerk in Stilbaai aangestel is.
Pieterse het 'n vaste kontrak van 1 Februarie 2017 tot 31 Januarie 2018 met 'n maandelikse toelae van R4 800 gekry.
Tussen Januarie 2017 en 24 Maart 2017 het Conradie glo vir Pieterse opdrag gegee om 'n maandelikse donasie van R1 500 in die bankrekening van Taute se stigting te maak. Sy het dié reëling met Taute bevraagteken, maar hy het dit glo nie ontken of erken nie.
Conradie het vir Pieterse gesê dié donasies is aan die stigting verskuldig vir die geleentheid wat sy gekry het om as 'n administratiewe klerk (navorsing) te werk.
Pieterse het haar toelaes vir Februarie en Maart 2017 gekry, maar geweier om die deposito's oor te betaal waarna Conradie haar op 16 Mei 2017 afgedank het. Hy beweer Pieterse was nie meer entoesiasties oor haar werk nie en dat sy geweier het om bevele te gehoorsaam.
Daar is van haar verwag om R18 000 aan Taute en Conradie oor te betaal, lui Ntabazalila se verklaring.
Die gevolge van die twee bedrieglike skemas is dat die twee beskuldigdes nou 21 klagte van korrupsie en een van bedrog in die gesig staar.
Die saak is uitgestel tot 12 April vir verdere ondersoek.
Taute was van 1994 - 1997 burgemeester van Riversdal en van 2004 - 2011 uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'