Update Video
HESSEQUA NUUS - Lood Oosthuizen, voorman van Wydersrivier-plaas tussen Albertinia en Herbertsdale het 'n dubbele verrassing gekry toe hy op 29 Desember sy gereelde besoek doen by die koeie wat na aan kalf is.
Nie net het een van die koeie geboorte aan 'n tweeling geskenk nie, maar een van die kalfies is met geslagsdele van beide geslagte gebore, 'n verskynsel wat as hermafrodiet bekendstaan.
"Dis nie 'n verskynsel wat baie algemeen voorkom nie, slegs onder 'n baie klein persentasie van meerlinge. So 'n kalfie is nie geskik vir reprodusering nie en sal daarom uitgeskot word," verduidelik hy.
"Meerlinge onder beeste is nie so algemeen soos onder kleinvee nie. Die betrokke tweeling is maar slegs die derde of vierde gedurende die afgelope drie jaar en die vorige meerlinge was normaal, hoewel van beide geslagte (bul/bul, vers/vers of bul/vers)."
Volgens Reinhardt Venter van Mosselbaai-dierehospitaal het die geaffekteerde dier geslagschromosome wat manlike/vroulike mosaïek toon. Dit is waar een individu beide die manlike XY- en XX-chromosoompare besit.
"Indien 'n koei 'n tweeling het waarvan een 'n bul en die ander tweeslagtig is, staan dit bekend as 'n freemartin. Indien daar twee geslagsdele en eierstokke betrokke is, sal die kalfie beslis onvrugbaar wees. Die geslagsdele sal dus nie funksioneer nie," verduidelik hy.
"Uit elke verse van 100 is daar gewoonlik twee of drie wat so gebore word. 'n Kalfie kan en sal 'n normale lewe kan lei, maar is geensins geskik vir reproduksie of melkproduksie nie."
Die tweeslagtige kalfie by sy/haar ma.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'