Update
ALBERTINIA NUUS - Talle motoriste is woedend omdat daar nie ag geslaan word op die geen stilhouteken vir motors of swaarvoertuie tussen die Engen en Shell Garage in Albertinia in Stasiestraat nie.
Soggens en saans stop daar pal swaar-voertuie by dié teken wat motoriste dan verplig om die swaarvoertuig in die verkeerde baan teen die aankomende verkeer verby te steek.
As daar aan albei kante van die pad trokke staan, belemmer dit die uitsig vir motoriste en maak dit vir hulle gevaarlik om in die nou stukkie pad ander motoriste verby te steek.
Die geel streep by Engen se kant beteken niks, volgens 'n inwoner wat verkies om anoniem te bly, want hulle stop ook daar - sommer aan die verkeerde kant.
Dis nie die eerste keer wat motoriste oor swaarvoertuie kla nie. Daar is selfs jaagduiwels wat stopstrate in die dorp en in Theronsville oorsteek. Nie net word kinders soms raakgery nie, maar talle ongelukke word hierdeur veroorsaak.
Word die verkeersdepartement of selfs die munisipaliteit gebel, kom 'n verkeersbeampte en skryf 'n boete uit, maar die probleem hou nie op nie kla 'n ander motoris.
Nog 'n ander motoris sê 'n oplossing is dalk om spoedhobbels in Theronsville op te rig, want dit sal die spoed van motoriste noodwendig verminder.
Engen het 'n opgegradeerde swaarvoertuig-parkering oopgestel vir die drywers, maar niemand gebruik dit bedags nie. Net as hulle oorslaap.
Nog 'n ander motoris sê hy en sy kind was amper in 'n botsing reg van voor met 'n trok wat te ver van die sypaadjie gestop het.
Dus vra motoriste prontuit wat daar gedoen kan word om hierdie probleem op te los.
Nie een van die motoriste wil hul name in die koerant genoem hê nie, want hulle is bang hulle word geviktimiseer.
Terugvoer van Hessequa-munisipaliteit
Didi Budricks, hoof van openbare betrekking en administrasie, sê in haar terugvoer onwettige parkering kan by verkeer of selfs by die plaaslike polisie aangemeld word as daar nie verkeersbeamptes in Albertinia diens doen nie.
"Parkering kan ook deur munisipale verkeersopsigters aangespreek word as verkeersbeamptes nie beskikbaar is nie."
Budricks sê verkeersbeamptes funksioneer op ongeskeduleerde rotasie om al die dorpe in Hessequa te diens en daarom is hulle nie altyd elke dag in alle dorpe regoor Hessequa nie.
'n Aansoek vir spoedkalmering met betrekking tot infrastruktuur - soos vir spoedwalle/-hobbels - moet aan die munisipaliteit se tegniese afdeling gerig word. Hulle sal dan die verkeersafdeling versoek vir 'n spoedwal/-hobbelevaluasie wat volgens die nasionale riglyne vir die implementering van spoedwalle se kriteria oorweeg word.
Daarna word die verslag aan tegniese dienste gestuur vir oorweging al dan nie.
Ander spoedkalmeringsopsies mag ook deur die tegniese afdeling oorweeg word.
Vorige artikel: Trokke blokeer verkeer
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'