Update
STILBAAI NUUS - Stilbaai-toerisme se idee om liefde te verewig gaan eindelik 'n werklikheid word, maar dit is nie al nie.
Liefdeslot-brûe verskyn oor die wêreld heen, en nou gaan dié dorp Vrydag 7 Desember om 10:00 hul eie een by die bekende Walvisuitkykpunt onthul.
Hoewel Stilbaai-toerisme onlangs hul afskeid en ken-mekaar-funksie gehou het, het die bestuur heelwat planne wat vanjaar nog verwesenlik gaan word.
Die herstrukturering en opgradering van hul winkel sal voor die feesseisoen afgehandel wees. By dié winkel kan plaaslike entrepreneurs hul kuns-, handwerk en ander goedere bemark.
Voorsitter Dries de Beer het gesê: "Ons is nou besig om die hele winkel oor te doen met nuwe uitstalkaste en ons beoog om heelwat nuwe entrepreneurs te betrek."
Stilbaai-toerisme beplan om die Stilbaai Liefdeslot-reëling tydens 'n spesiale geleentheid met 'n plaaslike 'langsgetroude' paartjie in te wy.
Hulle versoek hiermee besonderhede van paartjies wat 60 jaar of langer getroud is. Indien jy sulke paartjies ken, stuur hul kontakbesonderhede aan info@stilbaaitourism.co.za.
Lees 'n vorige artikel: Ou getroudes gesoek
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'