RIVERSDAL NUUS - Die polisie se soektog na Chiwaco Davids van Panoramastraat wat op Donderdag 4 Julie vermis geraak het, het nog niks opgelewer nie.
Chiwaco (18) se ouma Alice Davids, by wie hy woon sedert sy ouers oorlede is toe hy drie jaar oud is, het hom die Donderdag omstreeks 09:00 met kontant na die U Save-winkel in die hoofstraat gestuur. 'n Veiligheidswag het hom omstreeks 10:00 daar gesien.
Hy het nie teruggekeer huis toe nie en sy ouma het hom Vrydag by die polisie as vermis aangemeld.
"Ons is Saterdag 6 Julie Heidelberg toe omdat hy lief is vir rugby en al voorheen op sy eie soontoe is om na 'n wedstryd te gaan kyk," vertel ao. Hennie de Jager, ondersoekbeampte. "Ons het sy foto vir almal by die vulstasies en besighede gewys, maar niemand het hom gesien nie. Later is ons ook na Ladismith waar Riversdal Dorp teen Zoar gespeel het. Niemand op Zoar of in die dorp het hom gesien nie."
Terwyl hulle nog daar was, het sy niggie gebel en gesê sy het hom Donderdag omstreeks 17:00 by George-brandweer se kantore gesien, en weer later omstreeks 20:00 by die Pick n Pay in Courtenaystraat. "Volgens haar het hy 'n klomp bokse gedra. Sy het na hom geroep, maar hy het glo weggehardloop." Sondag is sy tante, Glenda Kleinhans, wat op dieselfde perseel as die ouma woon, saam met die polisie George toe. "Ons het die niggie en haar ma gaan oplaai en die strate - veral die plekke waar hawelose mense in Yorkstraat slaap - gefynkam."
Hulle het in die reën ook die omgewing van die taxistaanplek deursoek. Iemand het hom Saterdagaand by 'n kuierplek daar naby gesien. Nog 'n persoon het hom glo ook by die taxistaanplek opgemerk en met hom gepraat. "Volgens die persoon het hy normaal voorgekom," het De Jager gesê. Dit is belangrik, want Davids gebruik al lewenslank chroniese medikasie wat hy elke dag moet neem.
Volgens onderwysers by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr waar hy 'n gr. 10-leerder is, is hy 'n stil eenkantkind met 'n paar maats, maar hy het nooit by hulle oorgeslaap nie.
Davids is 1,7 m lank en skraal gebou. Ten tyde van sy verdwyning was hy in blou jeans, 'n grys Adidas-top en tekkies geklee. Sy profiel verskyn op Pink Ladies, 'n landwye Artikel 21-maatskappy wat help soek na vermiste persone, se Facebook-blad.
Enigiemand wat hom gewaar moet die naaste polisiekantoor by 10 111 of ao. De Jager by Riversdal-polisie by 028 713 8500 of 083 412 8530 kontak.
IN SHORT
An 18-year old youth, who has been missing since 4 July, has not been found yet. Anybody with information must please contact the nearest police station at 10111. His profile is also being distributed on the Pink Ladies Facebook page.
Pink Ladies help ook soek na Chiwaco Davids wat sedert 4 Julie vermis is.
Lees 'n vorige artikel hier: 18-jarige steeds sedert 4 Julie vermis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'