In die span was daar vier boere wat veral belangstel in die landbou tegnieke van die land. Johan en Mariette Willemse het 'n paar dae vroeër gegaan om plase te besoek. Hierdie was nie net 'n gewone toer deur Israel nie. Dit was wel 'n geleentheid om op waarhede af te kom in die land waar die fondasie van ons geloof lê. Met soveel kerke en organisasies, elkeen met sy eie siening, is dit nodig dat elke gelowige gaan kyk wat die skrif bedoel in… Jer 6:16 "So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie."
Ons ervaar orals in die wêreld is daar mense wat wil terugkeer na die Woord toe. Mense is moeg vir die sisteem wat alles met 'n genade-teologie wil vervang. Terwyl ons deur Israel reis word dit so duidelik dat hierdie "ou paaie" waarvan die Skrif praat, by Genesis begin en eindig by Openbaring. Baie moet nog in vervulling kom. Drie verse verder sê Vader dat die onheil in ons land veroorsaak word deur ons eie ongehoorsaamheid aan Sy Woord…. Jer 6:19 "Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp."
Ons toer se tema "Maak die Putte Oop" is gebore uit.... Gen 26:18 "En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het..." Maande voor ons reis na Israel het ons ervaar dat Vader vir ons Putte gaan oopmaak wat vir die afgelope 2000 jaar toe-gegooi is toe die Romeine Israel 70 n.C. vernietig het. Toe Konstantein die eerste kerk 325 n.C. begin, waaruit al die kerke vandag hul oorsprong het, het hy so te sê al die Hebreeuse denkpatrone (waarin die Priesters, Konings, Profete, Dissipels, Apostels en Jesus geleef het) vervang met Grieks-Romeinse denkpatrone wat sy oorsprong het in songod aanbidding.
Wat 'n fees was dit nie om deur die antieke plekke van die ou en nuwe testament te beweeg en Jesus te sien lewe in Adam, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses... die Profete en Apostels en tot by die Bruid vandag wat haarself moet voorberei vir Sy koms volgens Open. 19: 7. Vir so lank het ons net van Jesus in die Nuwe Testament gelees, maar Hy word deur Paulus in Handelinge geopenbaar vanuit die eerste 5 boeke wat ook die Torah genoem word.... Hand 28:23 "En hulle het vir hom 'n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in 'n kragtige getuienis het hy vir hulle die konin-kryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus."
Artho en Wilma getuig dat hulle die God van die onmoontlike beleef het wat vandag nog steeds vir ons die wonderwerke wil doen. Johan en Mariette vertel dat die graan, groente en vrugte wat in grootte en kwaliteit nêrens anders in so 'n maat gesien sal word nie 'n teken is van God se seën oor Sy land. Hoeveel te meer sal Hy nie ons boeregemeenskap seën as ons weer gehoorsaam word aan Sy Woord nie? Doen moeite om met almal wat op die foto is te gesels oor die rykdom van die Putte waarop hulle afgekom het in Israel.
Ons beoog 'n nasionale konferensie vanaf 9 tot 13 September in Riversdal met die tema "The African Highway". God het 'n wonderlike plan vanaf die Suid-Weskaap deur die hele Afrika. Die Hessequa streek gaan hierin 'n groot rol speel.
Ons beplan ook weer die Loofhuttefees vanaf 20 September in Jongensfontein. Verlede jaar se fees in Stilbaai was 'n groot sukses. Ons staan op 'n sterk profetiese woord dat Nasies in getalle na die Hessequa streek gaan stroom.
Na hierdie reis deur Israel wil ons almal oproep in die gemeenskap van Hessequa om hul knie te buig voor 'n lewende God, te-rug te keer na 'n Bybelse leefstyl waarin die bruid voorberei word om die mees intieme verhouding met ons hemelse Vader te hê. Sondag, 16 Junie om 09:00 by Bride Ministries kyk ons na 'n "power point" aanbie-ding en gaan die groep Riversdallers getuig oor hul ervarings in die Beloofde land. Almal Welkom!
Die groep voor die Klaagmuur.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal | Hessequa nuus'