HESSEQUA NUUS - Marilyn Saayman (71) van Riversdal is op Donderdag 5 Julie na 'n kort siekbed in Riversdal-hospitaal oorlede.
Sy behaal haar junior sertifikaat aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêr en haar onderwysdiploma by die Söhnge Onderwyskollege op Worcester. Sy tree met wyle Vincent (Boetie) Saayman in die huwelik. Uit die huwelik word 'n dogter en seun gebore. Sy gee onderwys by verskeie plaasskole in Riversdal, Melkhoutfontein Anglikaanse kerkskool, asook by Groot-Jongensfontein. Die skool was 10 km uit Jongensfontein op 'n plaas in die Blombos-distrik geleë.
Haar eggenoot beklee 'n tydelike betrekking by Wadrift Lutherse sendingskool. In 1977 word sy as onderwyser by Wadrift aangestel. Die skoolgebou is egter in 'n swak toestand en stort in 1985 ineen. Die skool verskuif daarna na die ou skoolgebou by Korenterivier-dam voor dit in 'n gebou op die plaas van Kallie Engelbrecht gehuisves word.
Na die vervroegde aftrede weens swak gesondheid van wyle Andries Eksteen, word sy as skoolhoof aangestel. In 1997 word die skool gesluit as gevolg van dalende leerdergetalle en gaan sy op 'n skeidingspakket. Sy beklee daarna beheerliggaambetrekkings by Voorwaarts Primêr vanaf 2007 tot 2010.
Haar begrafnisdiens vind Saterdag 14 Julie vanuit die Evangeliese Lutherse kerk om 10:00 plaas.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'