HESSEQUA NUUS - Anna van der Merwe Cronjé is op 20 Maart 1934 gebore. Na bykans ses weke in Life Bay View-hospitaal sterf sy op 10 Desember aan hartversaking.
Ansie is 'n Karoo-kind van Kenhardt en woon reeds sedert 1974 op Riversdal. Sy was vroeër jare 'n haarkapster op Riversdal en was getroud met Fanie Visser.
Die egpaar het twee seuns, Dries en Kobus.
Fanie het haar in 1981 ontval. Sy is later jare met Muller Cronjé getroud en hy is in Augustus 2008 oorlede.
Ansie was vir dekades by Riversdal-rolbalklub betrokke en dien sedert 1981 op die komitee. Sy was 'n aktiewe rolbalspeler tot feitlik op die einde.
In die laat 90's speel sy vir die Suid-Kaap senior dames waar hulle die goue medalje verower.
Die afgelope 20 jaar was sy klubsekretaris. "Ansie het geweldig baie vir die klub gedoen en beteken," vertel Ralie Myburgh, klubpresident.
"Sy het toernooie en gereël en feitlik alles gedoen wat gedoen moes word."
Vyf jaar gelede het Ansie met die Besigheidsliga by die klub begin, wat geweldig gegroei het en 'n groot sukses is, vertel Myburgh.
Haar pa het vir jare by haar gebly en is op die ouderdom van 104 oorlede.
Buiten haar twee seuns laat sy ook twee kleinkinders agter. 'n Gedenkdiens vind Vrydag 22 Desember om 10:00 in die NG Moederkerk se kapel in Langstraat plaas. Tee en verversings word daarna by die rolbalklub aangebied.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'