Update
RIVERSDAL NUUS - Altesaam 31 leerders van ses skole en twee tuisonderrigstudente in die Hessequa-streek het hul erfenis op uitnodiging van die Julius Gordon Africana-sentrum (Versfeld-huis) geteken.
Dié projek, ter viering van Erfenisdag op 24 September, is deur Louise du Plessis, die museumkurator, gelei.
Die opdrag was bloot: teken 'n erfenisgebou in die streek - sonder 'n liniaal, met net 'n HB-potlood op 'n wit A4-bladsy. Die reëls was duidelik.
Dit moet die leerders se eie werk wees en geen natrekkings van sketse is geduld nie. Die geboue (van kerke tot woonhuise) wat vir tekening geëien kon word, moes sestig jaar of ouer wees.
Leerders van graad sewe tot twaalf kon deelneem. Danksy die borge, Carmia-rekenmeesters, SuperSpar, Medi-Dal-apteek en ander sake-ondernemings, is R3 000 ingesamel en al die deelnemers is met 'n kontantprys beloon.
Rivkah van der Merwe (tuisonderrig) met haar tweede prys van R400.
Vyf leerders het groot pryse gekry en die ander 27 deelnemers het elkeen R55 gekry.
Die skole wat deelgeneem het, is Panorama Primêr, Laerskool Volschenk, Voorwaarts Primêr, Hoërskool Gerrit du Plessis, Hoërskool Langenhoven en Hoërskool Heidelberg.
Du Plessis meen: "Omdat kuns by die meeste skole nie meer as 'n vak aangebied word nie, word talle toekomstige kunstenaars se talent nie geëien en geslyp nie. Daarom is dit belangrik dat soortgelyke projekte deurgaans aangebied word om kreatiwiteit te bevorder en om daardeur die moraal van 'n gemeenskap op te hef."
Anja Kleinhans (Hoërskool Langenhoven) het die derde prys van R300 gewen.
Jadelyn Kortjé (Panorama Primêr) het R200 met haar vierde prys ingepalm.
Byron Saayman (Hoërskool Gerrit du Plessis) se skets het hom 'n vyfde plek en R100 in die sak gebring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’