HESSEQUA NUUS - Strenger waterbeperkings is van Donderdag 1 Desember af met onmiddellike effek in die Hessequa-streek geïmplementeer, het Hessequa-munisipaliteit in 'n mediaverklaring bekendgemaak.
Met die verhoogde vraag na water as gevolg van die instroming van besoekers en toeriste na die streek, die warmer somermaande en voortdurende beurtkrag, wat 'n impak het op die munisipaliteit se vermoë om rou water te behandel en voldoende reservoirvlakke te handhaaf, het die raad op 30 November besluit om strenger waterbeperkings in te stel.
Die munisipaliteit versoek inwoners en besoekers om hul waterverbruik te verminder en water konserwatief en verantwoordelik te gebruik.
Die situasie in die verskillende dorpe sal gemonitor word en strenger waterbeperkings sal ingestel word indien die toestand van waterbronne en reservoirvlakke versleg.
Wetstoepassing sal die situasie in die dorpe monitor en streng teen oortreders optree.
Die nuwe waterbeperkings van toepassing op die verskillende dorpe in die Hessequa streek is soos volg:
Vlak 2 (Riversdal, Gouritsmond, Stilbaai, Melkhoutfontein)
• Tuine mag slegs twee keer per week tussen 17:00 en 18:00 natgemaak word.
Ewe genommerde huishoudings mag hul tuine op Maandae en Donderdae natlei en ongelyke genommerde huishoudings op Dinsdae en Vrydae. Hierdie bepaling vervang alle vorige vergunnings vir die natmaak van tuine op ander tye.
Tuinslange, emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels mag gebruik word om tuine nat te lei, mits dit binne die toegelate tydgleuf gebeur. Tuinslange mag slegs onder toesig gebruik word.
• Die afspuit van verharde oppervlaktes soos plaveisel en sementoppervlaktes is verbode.
• Die was van voertuie, karavane en bote mag slegs deur middel van 'n emmer gedoen word.
• Indien ander bronne soos reënwater, tenks of boorgate gebruik word, moet dit op .n sigbare wyse aangedui word.
• Ouetehuise, kwekerye, karwasbesighede en kontrakteurdienste is uitgesluit by hierdie beperking.
• Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit by bogenoemde beperkings en sal op 'n ad hoc basis bestuur word deur administrasie.
• Skriftelike versoeke vir die afspuit van huise se dakke met 'n hoëdrukspuit sal slegs goedgekeur word indien die vlak van die Korentepoortdam (Riversdal) hoër is as 50% (hierdie is slegs van toepassing op Riversdal).
• Dit vervang vorige beperkings en is geldig vir Gouritsmond, Stilbaai, Melkhoutfontein en Riversdal.
Vlak 3 (Albertinia, Heidelberg, Slangrivier, en Jongensfontein)
• Tuine mag slegs een keer per week tussen 17:00 en 18:00 natgemaak word. Ewe genommerde huishoudings mag hul tuine op Dinsdae natlei en ongelyke genommerde huishoudings op Donderdae. Hierdie bepaling vervang alle vorige vergunnings vir die natmaak van tuine op ander tye.
• Tuinslange, emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels mag gebruik word om tuine nat te lei, mits dit binne die toegelate tydgleuf gebeur. Tuinslange mag slegs onder toesig gebruik word.
• Indien ander bronne soos reënwater tenks of boorgate gebruik word, moet dit op 'n sigbare wyse aangedui word.
• Ouetehuise, kwekerye, karwasbesighede en kontrakteurdienste word uitgesluit by hierdie beperking.
• Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit by bogenoemde beperkings en sal op ad-hoc basis bestuur word deur administrasie.
• Hierdie vervang vorige beperkings en is geldig vir Albertinia, Heidelberg, Slangrivier en Jongensfontein.
Vlak 4 (Witsand)
• Water mag slegs vir menslike gebruik aangewend word.
• Die natmaak van tuine is verbode.
• Die afspuit van verharde oppervlaktes soos plaveisel en sementoppervlaktes is verbode.
• Die was van voertuie, karavane en bote is verbode.
• Indien ander bronne soos reënwatertenks of boorgate gebruik word, moet dit op 'n sigbare wyse aangedui word.
• Ouetehuise, kwekerye en karwasbesighede is uitgesluit by hierdie beperking.
• Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit by bogenoemde beperkings en sal op 'n ad hoc basis deur administrasie bestuur word.
• Dit vervang vorige beperkings en is geldig vir Witsand.
• Oortredings van die waterbeperkings kan by jou naaste munisipale kantoor of by 028 713 8000 gerapporteer word.
• Waterbeperkings van toepassing op die verskillende dorpe is ook beskikbaar op ons webwerf.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'