HESSEQUA NUUS - 'n Tweede plaaslike radiostasie in die Hessequa-streek het onlangs die lig gesien en is reeds vanaf Augustus vanjaar op die lug.
Die eerste radiostasie wat 'n Christelike aanslag het, is Gateway Radio wat vanaf Heidelberg bedryf word. Dit het reeds 'n paar jaar gelede met Sally Nicholls as stasiebestuurder ontstaan.
Marco Olivier, 'n ywerige radioluisteraar het besluit dat hy nie net nuus van ander streke of provinsies oor die radio wou hoor nie. Verkeersprobleme en ander gebeure in Johannesburg beïnvloed of verryk glad nie sy lewe in Stilbaai nie.
Die idee van 'n plaaslike radiostasie"tussen die mense, vir die mense" het posgevat en op 1 Augustus vanjaar het die droom 'n werklikheid geword. Radio Fynbos het tot stand gekom wat in die behoeftes van plaaslike mense en besighede in die Hessequa-distrik voorsien.
Kinderskoene
"Die radiostasie is nog baie klein en in sy kinderskoene en ons maak daagliks nog baie foute, maar dit maak alles soveel meer pret," sê Marco. Alles wat hulle doen, is op die stadium vir die liefde van die saak. Hulle doelwit is egter om op 'n punt te kom waar hulle kostes gedek word.
Al die omroepers is plaaslike mense en die idee is om die Hessequa-gemeenskap op hoogte te hou van gebeure en verwikkelinge. Hulle bied gratis blootstelling en hulp aan liefdadigheidsorganisasies met fondsinsamelings.
Radio Fynbos het reeds onderneem om een van die hoofborge op 9 Oktober te wees met die insameling van geld vir For the love of animals, 'n plaaslike welsynsorganisasie wat na die diere in ons gebied omsien.
Die radiostasie het ook 'n mobiele ateljee aangeskaf om hulle in staat te stel om regstreeks uit te saai vanaf enige geleentheid. Hulle eerste suksesvolle mobiele uitsaai was by die Hessequa Erfenisfees op Saterdag, 25 September.
"Ons kry daagliks boodskappe van voorspoed en gelukwensing met die stasie, 'n teken dat Radio Fynbos in die behoeftes van die gemeenskap voorsien en dat daar waardering is," sê Marco.
In hulle eerste uitsaaimaand is hulle met 'n verbasende 6 800 luisteraars verras en hulle hoop om elke maand te kan verbeter daarop.
Luisteraars word aangemoedig om versoeke, verjaarsdagwense en boodskappe na hulle WhatsAppnommer te stuur (063 569 9468). Adverteerders kan navraag doen by info@radiofynbos.co.za.
Radio Fynbos se ateljee is tans in Jongensfontein geleë en hulle saai nog net aanlyn uit. Jy kan hulle kry by https://radio.garden/listen/radio-fynbos/7UWUcRJB
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'