Update
HESSEQUA NUUS - 'n Vuur wat Woensdag 23 Oktober langs die Stilbaaipad (R305) buite beheer geraak het, het inwoners onwillekeurig herinner aan die verwoestende brande van 2018.
Die brand het ook aan die dood van Nico Heyns 'n jaar tevore herinner. Die ervare vlieënier van Working on Fire (WoF) was met sy geel Huey-helikopter besig om saam met brandspanne op die grond 'n brand by Vermaaklikheid sowat 40 km van Riversdal af te bestry toe die helikopter geval het.
"Die lewensverlies was hartverskeurend," sê Allison Bryant, voorsitter van die Stilbaai Gemeenskapspolisiëring-subforum (GPSF).
"Die ondersteuningsnetwerk van Stilbaai-dorp en landelike gebied het die mense van Vermaaklikheid bygestaan deur twee maal per dag kos, drinkgoed en ys vir die brandweerpersoneel by die gesamentlike operasionele sentrum af te lewer."
Volgens die Garden Route-distriksmuni-sipaliteit (GRDM) het agt huise in die streek afgebrand, terwyl 5 200 ha plantegroei, asook brandhout, heinings en 'n aantal byekorwe in die slag gebly het.
Bryant sê die enigste hulp wat slagoffers van dié brande ontvang het was die watertenks en -pype en byekorwe wat deur die GPSF geskenk is. Sy meen die streek is baie meer gereed om brande die hoof te bied. "Sterk- en swakpunte is tydens die GPSP se werksessie oor vuur by Klipfontein identifiseer en in samewerking met die brandweer aangespreek."
- Vinnige reaksie: Die GPSF het meer as 300 lede en of grondeienaars wat die oë en ore is wat brande gou identifiseer. Inligting oor die plek, aard van die veld en die omvang van die vuur word blitsig aan brandbestrydingsbeamptes oorgedra.
- Kommunikasie: Die brandweer beskik oor 'n kaart waarop noodsaaklike inligting, soos die plase se nommers en toegangsroetes aangedui is sodat hulle vinniger by brande kan uitkom.
- Hulpbronne: Die GRDM se kapasiteit is vergroot met die aanstelling van nog brandbestryders, twee nuwe brandweervoertuie met 'n kapasiteit van 6 000 liter elk en 'n 4x4-bakkie met watertenk (bakkiesakkie).
- Verwydering van brandbare materiaal: Brandpermitte word aan boere uitgereik wat hulle toelaat om brandbare materiaal stelselmatig en op 'n beheerde wyse te vernietig.
Lees 'n vorige artikel hier: Streek is meer gereed vir brande
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'