Dit is 'n ylerige boompie van tot 4 meter hoog, met dun takke, fyn blaartjies en hangende trosse saadpeule. "Die plant moet met alle mag uitgeroei word," sê mnr. Wim Filmalter, Landcare-beampte van die departement van landbou op Riversdal. "Dit is gelys as 'n kategorie 1-pesplant en is dus hoogs ongewens."
Die stinkboon is 'n nuwigheid in die duinegebied. Dit het die eerste keer op 2 Januarie 1998 aan die lig gekom toe mnr. Jantjie Horn 'n takkie van 'n boompie langs die Stilbaai/Gouritspad na 'n vergadering van die Duineveld-Kusvereniging gebring het. Daar is verkeerdelik gemeen die dun takkie is van Acacia Mearnsii, die swartwattel. Mnr. Jan van Rensburg, wat in die duingebied grootgeword het, het gesê hy glo darem nie die plant sal 'n rietpol doodgroei nie, maar die vergadering het besef dat dit wel 'n probleemplant kan word en kommer oor die saak is genotuleer.
Aansoek om bestryding
Teen 2005 het die Duineveld-Kusvereniging by die nuwe Landcare-program aansoek gedoen vir die bestryding van indringers soos die stinkboon en in 2007 het Landcare op sommige plase gehelp om die indringer te bestry, terwyl ander grondeienaars self ingespring en die boompies uitgeroei het, op een kol selfs met 'n stootskraper.
Sedertdien het daar geleidelik weer stinkboonboompies op gronde Noord en Suid van die Stilbaai/Gouritspad begin verskyn en dit lyk of dit versprei vanaf saaddraende bome in die padreserwe. Selfs jong boompies dra welig saad. In die nadraai van 'n wegholbrand van verlede jaar het daar in die afgelope weke skielike velde van jong stinkboon verskyn "soos hare op 'n hond se rug", sê een grondeienaar.
Mnr. Onno Huyser, die WWF-SA (Wêreld-Natuurfonds) se programbestuurder vir Fynbos, sê die hitte van 'n brand laat die harde kors van die saad oopbars, wat die eerste stap is om nuwe groei te stimuleer. "Die verspreiding van stinkboon word grootliks aangehelp deur brand," sê hy.
Sodra daar genoeg vog kom, ontkiem die saad en skiet wortel binne 'n paar dae. In November 2013 was daar in die duinegebied op een enkele dag 100mm reën en vroeg in Januarie vanjaar was daar weer 'n stewige stortreën.
Blykbaar kan die stinkboon 20 tot 30mm per dag groei. Waar daar ou saad op die grond was, staan nou ruigtes van kniehoog tot heupboog. Hierdie jong boompies kan nog gemaklik met die hand uit die sand getrek word, "maar dis harde werk", sê mej. Muriel Hau-Yoon van Groenkant Private Natuurreservaat. Sy sê vier werkers van Groenkant het nou 'n aantal dae lank 19 000 tot 22 000 plante per dag uitgehaal, alles in die nabyheid van die Stilbaai/Gouritspad. Grondeienaars het die afgelope naweek 'n inspeksie gehou om te kyk waar op die gebrande gronde nuwe stinkboon opgeslaan het en 'n bestrydingsaksie is aan die gang. Ruie stande van stinkboon verdring alle ander plante. Huyser sê uittrek met die hand bly die beste metode om die plant uit te roei.
Volgens Filmalter is daar 'n tyd gelede elders in die Hessequa-streek ook enkele van die Australiese stinkboon gevind, maar dit is nou heeltemal uitgeroei.
Die opslag van plate jong stinkbone op gebrande veld.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'