STILBAAI NUUS - Toe Fresenius hul dialisediens in Februarie vanjaar in Stilbaai-Oos staak, moes Magda Niemand die 130 km George toe drie keer per week per motor aanpak.
Dit het beteken dat sy ten minste drie ure op die pad was en elke dialisesessie duur vier ure.
Saam met die opstel van die sessie was sy dus drie keer per week vir agt ure 'n dag daarmee besig. Vir 'n besigheidsvrou was dit regtig nie die ideale situasie nie. Die besige N2 het dit nie makliker gemaak nie en teen die tempo wat die brandstofprys styg, raak dit onbekostigbaar.
Tans is die wêreldwye tendens om tuis-dialise te doen.
Om dit in die gemak van jou eie huis te doen het natuurlik baie voordele, want jy hoef nie meer op die pad te wees nie. Jy bestee net vier ure, plus die opstel van die dialise, en jy kan daar waar jy sit aangaan met administratiewe take of jy kan lees, TV kyk en selfs brug speel saam met jou vriende.
Magda het aanvanklik peritoneale dialise gedoen, maar dit was nie suksesvol nie. Sy het toe omgeskakel na hemodialise en is tans die enigste pasiënt landwyd wat by Fresenius hierdie tipe tuisdialise doen.
Die nierdialisemasjien en watersuiwerings-apparaat is in haar huis geïnstalleer. Jy het natuurlik iemand nodig om jou op te koppel en jou te monitor gedurende die vier ure sessie.
Jou bloeddruk moet byvoorbeeld gemonitor word en daar moet in 'n steriele omgewing gewerk word. 'n Familielid of professionele persoon kan hierdie taak vervul en in Magda se geval is dit suster Enid Louw. Enid moes 'n ses weke lange kursus doen om Magda te ondersteun en Magda het die gemoedsrus dat 'n professionele persoon na haar omsien.
Aangesien nierdialise permanent deel van haar is, het tuisdialise Magda se lewe ingrypend verander.
Sy is nie meer op die pad George toe en terug drie keer 'n week nie. Sy is in die gemak van haar eie huis en sy kan selfs naweke weggaan. Sy is ook in die bevoorregte posisie dat haar mediese fonds die behandeling goedgekeur het en betaal vir die huur van die masjien. As dit nie daarvoor was nie, sou dit vir haar onbekostigbaar wees.
Indien enigiemand meer te wete wil kom rakende die masjien en die prosedure is jy welkom om Erika Pieterse, eenheids-bestuurder van Fresenius in George by 082 878 7445 te skakel.
Vir enige navrae rakende die versorging kan jy Enid Louw kontak by 076 868 7886.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'