STILBAAI NUUS - Stilbaai-toerisme het hulle algemene jaarvergadering op Dinsdag 3 Oktober by die gholfklub gehou.
In haar voorsittersverslag het Annerise Wolmarans gemeld dat daar meer toeriste deur Kaapstad Internasionale Lughawe gekom het in die eerste ses maande van 2023 as die statistieke voor die Covid-19-pandemie.
George-lughawe het 'n groei van 3% gehad in vergelyking met dieselfde tyd in 2022.
Die Stilbaai-toerismekantoor het ook 'n stewige groei gehad met oorsese besoekers aan dié toerismekantoor wat van 218 die vorige jaar tot 529 gegroei het.
Dit is dus duidelik dat Stilbaai moet verseker dat toeriste veilig en welkom voel. Akkommodasie moet op standaard wees en restaurante se diens en spyskaarte moet mense laat praat.
Stilbaai is die enigste dorp in Hessequa met 'n toerismekantoor en hierdie kantoor word nie ten volle gefinansier deur die munisipaliteit nie. Hulle is selfaangewese om geld te in en hier speel die besighede 'n groot rol.
As mens kyk na die aantal mense teenwoordig by die jaarvergadering is dit duidelik dat die Stilbaai-sakesektor baie positief staan teenoor toerisme en dit voorspel groot dinge vir Stilbaai.
Eugene van der Walt van Stilbaai Outdoor Adventures het Stilbaai-toerisme se oorkonde ontvang vir dit wat hy die afgelope jaar vir toerisme beteken het.
Die nuwe bestuur is ook gekies en is as volg: Annerise Wolmarans, Eugene Visagie, Nardus Venter, Tania Harmzen, Kevin Hector, Laetitia Loots, Louise Gerryts, Debbie Deetlefs, Elmarie Smit en Riaan Moag.
Die bestuur en kantoorpersoneel van Stilbaai-toerisme in ligte luim. Voor, van links is Claudia Jacobs, Annerise Wolmarans, Chantelle Loots (namens Laetitia Loots), Louise Gerryts, Debbie Deetlefs en Kevin Hector. Agter: Eugene Visagie, Mariaan Harris (kantoorbestuurder), Nardus Venter, Tania Harmzen en Derek Odendaal. Afwesig: Elmarie Smit, Riaan Moag en Laetitia Loots.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’