STILBAAI NUUS - 'n Nuwe bestuur vir die volgende termyn is tydens Stilbaai-toerisme se algemene jaarvergadering op Dinsdagaand 17 Oktober verkies.
Lede wat op die bestuur bly, is die voorsitter Arrie Combrinck, Carin Louw, Adolf Botes, Riaan Moag, Johannie Vermeulen en Hannetjie Ferguson terwyl Louise Christie, Louise Gerryts, Dries de Beer, Drienie Greene, Werner du Toit en Didi Serfontein tot die bestuur gekies is.
In sy voorsittersverslag het Combrinck die lojale lede vir hul ondersteuning bedank en uitgewys dat die moeilike ekonomiese toestande ook 'n invloed op plaaslike toerisme het.
"Dit is egter insiggewend om te sien dat meer as 6 600 mense die toerismekantoor tydens 2016/2017 besoek het, wat 426 internasionale toeriste insluit. Die varswaterpalings het 3 561 besoekers gehad."
Stilbaai-toerisme het heelwat suksesvolle projekte aangepak en voltooi, wat die opening van die opeluggimnasium, wat in samewerking met Stilbaai-sakekamer van stapel gestuur is, insluit asook die bekendstelling van die Stilbaai-paspoort wat nie net 'n bemarkingsinisiatief is nie, maar ook 'n bydrae tot die fondse van Stilbaai-toerisme maak.
Agter, van links: Arrie Combrinck, Adolf Botes, Didi Serfontein, Johannie Vermeulen, Werner du Toit en Riaan Moag. Voor: Louise Gerryts, Carin Louw, Louise Christie en Hannetjie Ferguson. Afwesig: Dries de Beer en Drienie Greene.
Die organisasie was ook aktief betrokke by die Kersfees-in-Julie-week en het onder andere 'n Pannekoek- en Port-aand by die Palinggat Opstal, waar die toerismekantoor gehuisves word, aangebied.
Die uiters suksesvolle Brood- en beskuitfees, wat saam met die Hessequa Heritage Trail Runs aangebied is, het groot lof ontvang en sal ook weer hiér aangebied word.
Die toerismekantoor is van hul lede en fondsinsamelingsaksies afhanklik en Combrinck het veral akkommodasie-eienaars, asook besighede genooi om 'n lid te word om die voortbestaan van die toerismeburo en inligtingskantoor te verseker.
ARTIKEL EN FOTO: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'