STILBAAI NUUS - Stilbaai-toerisme se nuwe bestuur vir die volgende jaar is op Dinsdag 21 Augustus by die algemene jaarvergadering gekies wat by die gholfklub plaasgevind het.
Die geleentheid is ook gebruik om lede en die publiek in te lig oor die werksaamhede en doelstellings van dié belangrike organisasie. Die uittredende voorsitter, Arrie Combrinck, het interessante feite voorgelê, wat insluit die hoeveelheid besoekers wat die toerismekantoor tydens 2017 en 2018 by die Palinggat-opstal besoek het, wat 6 608 was. Dit was meer as die vorige boekjaar, aangesien die AJV vanjaar twee maande vroeër plaasgevind het.
Die getal sluit ook 322 oorsese besoekers in terwyl die varswaterpalings, wat 'n belangrike bron van inkomste vir die kantoor is, 4 089 besoekers gehad het.
Die organisasie was die afgelope jaar by verskeie projekte betrokke wat ingesluit het hul pannekoek-en-portaand tydens die Christmas in July-vieringe, waartydens hulle byna 700 pannekoeke verkoop het.
Ander projekte sluit in die inligtingskiosk langs die R305 net voor die brug wat 'n metamorfose ondergaan het. Lede en besighede word aangespoor om daar te adverteer. Nadat 'n paar van die palings deur 'n ongedierte gedood is, is 'n elektriese heining ook om die varswaterdam opgerig. Die eerste buitelugkonsert is in Desember by die terrein aangebied, terwyl die Hessequa Heritage en Brood- en beskuitfees ook vir die tweede agtereenvolgende jaar op 22 September by die buro plaasvind.
Alle rolspelers en borge is bedank en twee spesiale oorkondes is oorhandig. Laetitia Loots Strydom is bedank vir die inligtingskiosk se kunswerke, terwyl OK Foods ook spesiaal bedank is vir hul jare lange borgskap vir die palings se kos en hul bydrae tot funksies, soos al die bestanddele vir die afgelope twee jaar se pannekoek-en-portaand.
Lede van die bestuur wat weer hul dienste beskikbaar gestel het, sluit in Combrinck, Dries de Beer, Adolf Botes, Werner du Toit, Johannie Vermeulen, Riaan Moag, Hannetjie Ferguson en Louise Gerryts. Carin Louw het na jare lange diens besluit om vir eers die tuig neer te lê.
Die toerismebestuur is agter, van links: Dries de Beer (voorsitter), Johannie Vermeulen, Danie Gerryts, Adolf Botes, Louise Gerryts en Riaan Moag. Voor: Laetitia Loots Strydom, Hannetjie Ferguson en Arrie Combrinck. Afwesig: Werner du Toit. Foto's: Elza Thiart-Botes, korrespondent
De Beer is as die nuwe voorsitter gekies. Die nuwe lede is Danie Gerryts en Loots Strydom. "Ek sien uit na 'n jaar vol opwinding saam met 'n entoesiastiese span," het De Beer gesê. "Stilbaai het baie om toeriste te bied en as span gaan ons ons beste gee om Stilbaai, Melkhoutfontein, Jongensfontein en die omliggende landelike gebied se sakeondernemings, historiese gedenkwaardighede, verblyfplekke en besondere natuurlike bates te bemark. Onderlinge skakeling met alle organisasies en amptenare is van kardinale belang om toerisme in die gebied tot nuwe hoogtes te vat," het hy gesê.
Volgens De Beer kan dit nie sonder die samewerking van die breë gemeenskap gebeur nie en hy nooi alle besighede en instansies om 'n lid van toerisme te word. Hy nooi ook almal wat voel dat hulle 'n bydrae kan lewer om hulle te kontak. Enige navrae en voorstelle kan gestuur word aan chairman@stilbaaitourism.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'