Update
STILBAAI NUUS - Maande se beplanning en harde werk het Saterdag, 2 April vrugte afgewerp toe Huis Stilbaai se jaarlikse basaar 'n reusebedrag van R151 000 ingebring het - R20 000 meer as verlede jaar.
Die tyd wat personeel, inwoners en vrywilligers daaraan gewy het om die basaar 'n sukses te maak, is ook beloon met goeie weer en 'n jolige basaar.
Vir die eerste keer is die parkeerterrein voor die ouetehuis omskep in 'n buitelugrestaurant en verfraai met veelkleurige sambrele, tafeltjies en stoele.
Musikant Thinus de Beer het al die pad van George gekom om die basaargangers te vermaak.
Ietsie van als
In die eetsaal is ontbyt bedien. Daar was ook 'n tafel met naaldwerk en breiwerk waarvan baie deur die inwoners gemaak is.
Basaarpoeding op sy beste!
Buite het die pannekoekry die heel oggend lank gebly. Basaarpoeding en koeke is soos blits opgeraap.
Karlien Saayman, Huis Stilbaai se bestuurder, vertel die witolifant-tafel was baie gewild terwyl die vleistafel se produkte binne 'n uur uitverkoop het.
Saayman is natuurlik hoogs tevrede en dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap.
Seunskoor
Maar die hoogtepunt, was die wêreldbekende Drakensberg-seunskoor se verrassingsbesoek aan Huis Stilbaai.
Hulle het eers 'n lied, Abantwabami, buite gesing terwyl mense aangesit het vir hulle spitbraai-ete. Daarna het hulle by die siekeboeg van Huis Stilbaai gaan sing.
Die koor was in Stilbaai om Saterdagaand in die gemeenskapsaal op te tree, waar hulle 'n vol saal getrek het.
Vorige artikel: Huis Stilbaai hou basaar uit boonste rakke
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'