Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die weer het Saterdag 2 April pragtig saamgespeel en Huis Stilbaai se jaarlikse basaar was weereens 'n reuse sukses.
Vir maande is daar beplan en gewerk deur die personeel, inwoners en vrywilligers en op die einde was dit beslis die moeite werd.
Die parkeerterrein voor die ouetehuis is verfraai met veelkleurige sambrele, tafeltjies en stoele.
Thinus De Beer het al die pad van George gekom om die basaargangers te vermaak met sy pragtige stem.
In die eetsaal is ontbyt bedien, en daar was ook 'n tafel in die ouetehuis met naaldwerk en breiwerk waarvan baie gemaak is deur die inwoners self.
Buite het die pannekoek ry die heel oggend lank gebly en natuurlik was daar basaarpoeding en koeke wat gou opgeraap is.
Karlien Saayman, Huis Stilbaai se bestuurder, vertel die wit-olifant-tafel was baie gewild en die vleistafel se produkte is binne 'n uur uitverkoop.
Saayman is natuurlik hoogs tevrede en dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap. Sy sê hulle het vir die eerste keer ‘n restaurant-effek probeer en dat dit werk soos ‘n bom.
Die kersie op die koek was die wêreldbekende Drakensberg Seunskoor se verrassingsbesoek aan Huis Stilbaai.
Karlien Saayman (regs) saam met die Drakensberg Seunskoor. Foto's: Johan Victor
Hulle het eers 'n lied, Abantwabami, buite gesing terwyl mense aangesit het vir hulle spitbraai-ete en daarna het hulle Masithi Amen gaan sing by die siekeboeg van Huis Stilbaai.
Voorwaar 'n hoogtepunt. Die koor was in Stilbaai om Saterdagaand in die gemeenskapsaal op te tree, waar hulle 'n vol saal getrek het.
Stilbaaiers wat nie by die basaar was nie het ‘n wonderlike geleentheid misgeloop en moet verseker volgende jaar die datum aanteken.
Huis Stilbaai basaar (Video: Johan Victor).
Drakensberg Seunskoor sing die lied Abantwabami by die basaar (Video: Johan Victor).
Drakensberg Seunskoor sing die lied Masithi Amen by die siekeboeg van Huis Stilbaai, terwyl oom Charles aandagtig luister (Video: Johan Victor).
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'