STILBAAI NUUS - Nie eens beurkrag kon 'n demper op die teenwoordiges se geesdrif plaas tydens die plaaslike sakekamer se algemene jaarvergadering Dinsdagaand, 24 Mei by die gholfklub nie.
Dit was duidelik dat dié sakekamer 'n baie belangrike rol in byna elke opsig speel. Met die intrapslag het die voorsitter, Rachel Wall die opmerking gemaak dat môre binne die vier mure van 'n skool gehuisves word.
"Net so kan ons sê dat binne die klubhuis se vier mure Stilbaai se toekoms vanaand gehuisves word."
Die sakekamer se bestaansrede en visie is om 'n invloedryke en gerespekteerde organisasie te wees wat inspireer en 'n omgewing vir besighede te skep om in te floreer.
Dat hulle hierin slaag kan gesien word deur dat hulle al 'n tweede keer die gesogte AHI-toekenning ontvang het as sakekamer van die jaar. Ander sakekamers in die Wes-Kaap nooi hulle gereeld om hulle lede toe te spreek. Stilbaai-sakekamer is ook die inisieerder en leier in die stigting van die Hessequa-sakeforum.
Die sakekamer het 20% in lidmaatskap gegroei en 18% in ledefooie. Dit verteenwoordig 'n groei in nuwe lede, maar ook kansellasies as gevolg van Covid-19. Suksesse is met 14 lede se sakekwessies behaal en hulle het ook direk by die Brugmark betrokke geraak.
Die goeie verhouding tussen die sakekamer en Hessequa-munisipaliteit strek tot voordeel van alle sakelui. Al die lede van die uitvoerende burgemeesterskomitee en die speaker van die raad, Andrew Stroebel, het die vergadering bygewoon.
Die raad se visie en strategie vir Stilbaai is uiteengesit en verskeie afdelings van die munisipaliteit het aanbiedings tydens die vergadering gelewer.
Die munisipaliteit se kapitaalbegroting vir Stilbaai oor die volgende vier jaar beloop R63 656 272, waarvan R10 507 152 in 2021/22, R13 268 023 in 2022/23, R10 450 500 in 2023/24 en R29 430 597 in 2024/25 begroot is.
Vir paaie is R5 miljoen begroot, vir riool infrastruktuur R3.2 miljoen vir opgraderings by die rioolwerke en R6.2 miljoen vir die opgradering van rioolpompstasies. Wat water betref is daar R6 miljoen oor die volgende drie jaar begroot vir 'n nuwe reservoir en R3 miljoen vir die opgradering van die waternetwerk.
Die Hessequa begrotingsdokument is by die plaaslike biblioteek beskikbaar vir enigeen om die fyner detail te kry.
Die uitdagings vir Stilbaai is baie belangrik in hierdie toekomsvisie. Die vraag is of dit 'n vakansie- of 'n aftreedorp is, of 'n sekondêre dienssentrum met verskeidenheid van funksies, of 'n hoof kusontwikkelingsone - of dalk 'n kombinasie van almal?
Die uitdagings is die toename van in-migrasie, hoë eiendomspryse kan lei tot die uitsluiting van die middelklas, 'n toenemende druk op waterbronne, die bewaring van natuurlike ekosisteme en biodiversiteit, die beperking van patroon van laedigtheid stedelike uitbreiding, die beskerming van die kenmerke binne die stedelike grens wat bydrae tot die dorp se 'sin van plek' en dan die bevordering van 'n meer kompakte en doeltreffende stedelike vorm.
Hierdie uitdagings kan aangespreek word deur stedelike ontwikkeling binne die stedelike grens in te perk. Verdigting en intensifisering binne stedelike gebiede moet bevorder en stedelike grense moet geprioriseer word.
Laastens is daar die ruimtelike herstrukturering as 'n strategie om plaaslike ekonomiese ontwikkeling te stimuleer. Die sentrale sakegebied moet her-afgebaken word om groter ekonomieë van skaal te bewerkstellig.
Sake-indringing in woongebiede moet beperk en sekondêre sakegebiede geïdentifiseer word. Aktiwiteitsroetes moet aangemoedig word en tuisondernemings en huiswinkels se beleidsriglyne moet gedefinieer word. Diensnywerhede wat klein vervaardigers akkommodeer behoort aangemoedig te word.
Die nuwe bestuur is aangewys en bestaan uit Jacques Hefer, Tertius Haak, Willie Delport, Estee Jansen, Rachel Wall, Johannes van Zyl, Johan Kok, Maarten Roode en Johan Kriel. Die nuwe voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en tesourier word eers op 14 Junie gekies.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'