STILBAAI NUUS - Die plaaslike polisie het die nuwe finansiële jaar, wat op 1 April vanjaar begin en 31 Maart volgende jaar eindig, op 'n hoë noot begin.
Stilbaai-polisiediens was vir April dié polisiestasie in die Wes-Kaap wat die beste uit al 151 polisiestasies presteer het. Hulle was uiteraard dan ook eerste in die Da Gamaskop-groep. Vir Mei was Stilbaai tweede in die Wes-Kaap, maar steeds eerste in die Da Gamaskop-groep. In albei maande het hulle onder meer daarin geslaag om 'n daling in die misdaadsyfer te bewerkstellig.
Die 17 prioriteitsmisdade het vir Junie in ooreenstemming met verlede jaar met 69% gedaal. Vir die eerste drie maande van die jaar het dit met 43% gedaal.
"Hierdie sukses word hoofsaaklik aan 'n gefokusde funksionele polisiëringsaanslag toegeskryf," sê kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder.
Dit sluit die volgende polisiëringsaksies in:
- Suksesvolle optredes teen onwettige drank - en dwelmsmokkelaars;
- Deurlopende optredes teen persone wat drank misbruik en oproerig op straat is. Dit lei gewoonlik tot bakleiery en gevolglike aanmelding van aanrandings;
- Behoorlike ondersoek van aangemelde misdaad en inhegtenisneming van die oortreders; en
- Die teenstaan van borgtogaansoeke van persone wat vir die misdade in hegtenis geneem is.
Die tweede faktor wat tot hierdie suksesse aanleiding gee is 'n GPF met sterk buurtwagstrukture wat baie goed werk.
"Al die buurte beskik oor buurtwagte. Onder leiding van Pieter Lategan het hulle vir affiliasie by die departement van gemeenskapsveiligheid aansoek gedoen. Sodra dit goedgekeur is, sal elke buurtwag R10 000 van die departement ontvang om toerusting aan te koop."
Altesaam 29 organisasies is lid van die GPF en vergader op 'n maandelikse basis. Die landelike sektor sub-forum met Allison Bryant as voorsitter, het ook om affiliasie by die departement aansoek gedoen. "Sy is hard besig om saam met die koördineerders van die Blombos-gebied werkbare kommunikasiekanale te vestig."
Van Tonder noem dat die buurtwagte se WhatsApp-groepe uitstekend funksioneer en dat daar deurlopend goeie kommunikasie tussen hulle en die polisie is wanneer iets verdags aangemeld word.
"Verder vorder die kameraprojek ook baie goed en is daar byna genoeg fondse genereer om die volgende twee kameras in Melkhoutfontein te installeer."
Suksesse in hof sedert April 2019 tot op hede
Vonnisse
Stilbaai MAS 51/11/2016, Huisbraak en diefstal - Elton Moses skuldig en gevonnis tot 20 maande gevangenisstraf, waarvan 10 maande opgeskort is vir 5 jaar.
Stilbaai MAS 4/8/2016, Betreding - Elton Moses skuldig en gevonnis tot R1 000 boete of 15 dae gevangenisstraf.
Stilbaai MAS 85/10/2016, Huisbraak en diefstal - Elton Moses skuldig en gevonnis tot 18 maande gevangenisstraf.
Stilbaai MAS 124/11/2018, Diefstal - Reagan-Jon Petersen, 12 maande gevangenisstraf.
Stilbaai MAS 58/10/2018, Huisbraak en diefstal - Ruan Smit en Ruduwaan Marais, 24 maande gevangenisstraf opgeskort vir 5 jaar.
Stilbaai MAS 39/4/2019, Onwettige handel in drank sonder lisensie - Bhekuyise Ntsalaze, 36 maande korrektiewe toesig en gemeenskapsdiens.
Stilbaai MAS 45/4/2017, Roof - Eben Julies en Ruan Smit, beide 3 jaar gevangenisstraf.
Stilbaai MAS 17/12/2018, Huisbraak en diefstal - Ruduwaan Marais en Eben Julies, albei 6 jaar gevangenisstraf opgeskort vir 5 jaar.
Stilbaai MAS 83/1/2018, Moord - Magdaleen September is skuldig bevind aan die moord op Marthinus Johannes Michaels en moet nog gevonnis word.
Stilbaai MAS 88, 89, 93, 96, 102 en 104/6/2018, die reeks inbrake van Blombos - Hier is drie van die beskuldigdes reeds skuldig bevind en sal eersdaags gevonnis word. Hulle is Emile Rossouw, Gerswin Francies en 'n minderjarige, wie se naam nie bekend gemaak kan word nie.
Stilbaai MAS 123/1/2018 - Soos verlede week berig, is beide James Steyn en Cornelius van Rooyen skuldig bevind op verskeie klagtes van onder meer 1. Moord; 2. Poging tot moord en 3. Huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede, vyf klagtes van roof met verswarende omstandighede, sowel as 'n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
"Op die oomblik is daar ongeveer 20 persone wat in hegtenis gehou word vir verskeie ernstige misdade, Die smokkel van drank en dwelms is ook 'n ernstige knou toegedien, wat tot gevolg het dat Melkhoutfontein veral oor naweke aansienlik stiller is," sê Van Tonder.
"Uit die vonnisse is dit opmerklik dat sekere persone vir baie van die misdaad verantwoordelik is. Dit is belangrik dat ons as Suid-Afrikaanse Polisiediens behoorlik ondersoek doen ten einde 'n goeie saak vir die staatsaanklaer voor te berei. Stilbaai-polisie se huidige strategie lei tot goeie suksesse en ons bedank die gemeenskappe van Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein vir hul goeie samewerking en ondersteuning. Laastens wil ek graag dankie sê vir al die personeel vir hul toewyding aan hulle werk. Was dit nie daarvoor nie, sou ons nie so suksesvol kon wees nie," sluit hy af.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'