Gallery
STILBAAI NUUS - Die onlangse storms wat die Suid-Kaapse kus getreiter het, het ook heelwat skade aangerig aan die antieke visvywers by Skulpiesbaai buite Stilbaai.
Charl Marais, 'n plaaslike inwoner, het egter al in November 2022 die idee gekry om die vywers te herstel. Hy het met André Roux, die konsessiehouer, gesels en die bal aan die rol gesit.
'n Beroep is gedoen op die gemeenskap om oor die naweek van 10 en 11 November te help om herstelwerk te doen en onder leiding van Charl het daar Vrydag 32 mense gewoel en Saterdag was daar 24 mense.
Danie Roux van Riversdal, broer van André, het voorgevat en presies gewys hoe om die klippe te pak, want dit is vir seker nie net 'n klomp klippe wat opmekaar gegooi word nie. Hou in gedagte dat die see voortdurend aan die beweeg is en die golwe spoel baie maklik 'n klomp klippe deur- en uitmekaar. Antoinette Nel, Jean du Plessis en Charl het hand bygesit en die vrywilligers is in groepies opgedeel.
FOTOGALERY: Herstelwerk by visvywers by Skulpiesbaai
Die groep mense wat gehelp het met die herstel van die visvywers.
Volgens Jean du Plessis van CapeNature, wat self direk betrokke was, is daar altesaam vyf en 'n half ure se pakwerk gedoen wat gelykstaande is aan een persoon wat vir 19 en 'n halwe dag gewerk het. Hy sê dat as die totale lengte van die vywers geneem word wat nou in 'n goeie toestand is, staan hulle op 1 062 meter, wat glad nie sleg is nie.
Die organiseerders beplan ook sessies op 16 en 28 Desember en dan ook die vyfde Januarie 2024, maar dit sal by die vywers by die hawe gebeur. Dit sal geleentheid gee aan vakansiegangers wat wil help om hierdie erfenis vir nog baie jare te bewaar.
André Roux is ongelukkig baie siek, maar hy het ook 'n draai gemaak en sy broer Danie het na Saterdag se verrigtinge so ses stuk harders gevang wat hy vir André gebraai het.
Die publiek moet daarop let dat slegs konsessiehouers vis in hierdie vywers kan vang of skep. 'n Gewone visvanglisensie is nie voldoende nie en CapeNature gaan wel patrollies doen om dit te verhoed.
Volgens Charl beplan hulle 'n vywerfees vir 28 Desember, maar hierdie inligting sal later deurgegee word.
Hier kan duidelik gesien word hoe mooi die vywers weer lyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’