STILBAAI NUUS - Stilbaai-hawe vorm deel van 'n instandhouding- en opgraderingprojek in die Wes-Kaap.
Dié projek sal ongeveer R7 miljoen kos en word deur die nasionale departement van openbare werke gefinansier. Dit behoort sewe maande te neem om voltooi te word. Volgens Hessequa-munisipaliteit is 'n bewerkstellingsagent aangestel vir die herstel, instandhouding en opgradering van 13 geproklameerde vissershawens in die provinsie. Omgewingsgoedkeuring vir dié opgraderingsprojek is verkry.
As deel van die projek sal 1 500 m³ sand en sediment verwyder word deur konstruksie-masjinerie en 750 m³ sal direk na die Melkhout-fontein-stortingsterrein vervoer word.
Die sand sal vir bedekking gebruik word. Die balans van 750 m³ sal tydelik op die bestaande parkeerterrein by Stilbaai-uitkykpunt gestoor word. Munisipale bestuurder, Johan Jacobs het gesê: "Die gebied sal vooraf en spesifiek geïdentifiseer word om ontwrigting te voorkom. Die vervoer van materiaal sal in samewerking met die munisipaliteit gedoen word. Werkskepping en opleidingsgeleenthede sal deur die implementeringsagent aan plaaslike werklose mense beskikbaar gestel word.
"Veiligheidsaspekte sal deur spesialiste hanteer word. Die bewerkstelling van die projek is aan die vissermanne verduidelik en sal hulle nie beïnvloed of affekteer nie." Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, asook raadslede Tinus van den Berg en Ben Smith is opgewonde oor die projek.
Lees 'n vorige artikel: Stilbaai-hawe deel van opgraderingprojek
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'