Update
STILBAAI NUUS - Die bekende en beminde Joggie Kastner, oudinwoner van Stilbaai het Vrydag 26 Mei in die Carewell-hospitaal in Stilbaai gesterf.
Die 79-jarige oom Joggie en sy vrou Bettie het die laaste tyd in Albertinia gewoon, maar was vir jare inwoners van Stilbaai. Oom Joggie het vir 11 jaar lank die bekende Brugstories bedryf tot in Februarie 2014.
Hy het gelewe om ander te dien en was na sy aftrede onder andere die ondervoorsitter van Stilbaai se Gemeenskapspolisiëringsforum en in sy tyd ook lid, klubpresident en distriks goewerneur van die Lions.
Oom Joggie het aan die Universiteit van Pretoria en Unisa honneursgrade verwerf in politieke wetenskap en industriële sielkunde en hy het ook 'n meesters- diploma in lewensvaardighede verwerf deur die La Red Global Entrepreneur Institute, USA. Hy was dan ook 'n gesertifiseerde lewensvaardighede afrigter.
In lewe was oom Joggie vanaf 1963 tot 1989 werksaam by die Staatsdienskom-missie en daarna by die departement van arbeid tot Junie 1997 waar hy afgetree het as direkteur generaal onder Tito Mboweni.
Stilbaai GPF se huldeblyk is 'n pragtige weergawe van hom. Hulle sê hy het diep spore getrap.
Hy was 'n doener en nie 'n prater nie en hulle sluit af met, "Stilbaai en jou mense gaan jou mis."
Oom Joggie laat sy vrou Bettie, met wie hy 54 jaar getroud was, sy dogter Carin Kastner en skoonseun Jacques Wilken, sy seun Werner en skoondogter Karien Kastner en drie kleinkinders agter.
Carin sê: "'n Groot boom het sag gegaan. Daar is 'n groot leemte in ons familie. Hy was ons mentor. Mis hom ongelooflik baie."
Joggie Kastner (1 Februarie 1944 -- 26 Mei 2023).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’