RIVERSDAL NUUS - Is spekboom die oplossing om Suid-Afrika se koolstofvoetspoor te verminder?
Die land is immers die wêreld se 14de grootste bron van koolstof, wat kan bydra tot wêreldwye klimaatsverandering.
Die #spekboomchallenge probeer mense oorreed om 10 of meer spekboompies in 2020 te plant, maar nie alles wat vertel word oor die plant, is heeltemal waar nie.
Daar word byvoorbeeld gesê dat die spekboom terselfdertyd van twee soorte fotosintese gebruik maak; dat 'n digte stand spekboom meer koolstof as 'n tropiese reënwoud stoor; en dat dit tot 10 ton koolstof per hektaar per jaar sekwestreer. Sekwestrasie beteken dat die koolstof in die lug deur die boom opgeneem/vasgevang en in die grond deur die wortels en onder die boom gestoor word.
Die spekboom maak inderdaad van twee soorte fotosintese gebruik, maar nie gelyktydig nie. Dit stel die plant in staat om beter te oorleef in die halfwoestynagtige gebiede waar dit natuurlik voorkom.
Digte, ongerepte spekboomstande het inderdaad 'n besondere vermoë om 245 ton koolstof per hektaar in die omgewing te stoor. Dis egter nie waar dat spekboomstande meer koolstof as tropiese reënwoude stoor nie, want sulke woude in Oos-Afrika stoor 330 ton koolstof per hektaar per jaar, terwyl turfmoeras (peatbogs) in Indonesië 2 700 ton en Siberiese ysgrond (permafrost) 4 500 ton stoor.
Dis ook nie heeltemal waar dat spekboom tot 10 ton koolstof per hektaar per jaar sekwestreer nie - toetse by twee verskillende plekke het onderskeidelik net 4,2 en 1,2 ton opgelewer. Dit vergelyk egter goed met reënwoude wat tussen 2,0 en 5,1 ton per hektaar per jaar en droë woude in Suid-Amerika en Australië wat onderskeidelik 2,8 en 3,8 ton per hektaar sekwestreer.
Beteken dit dat mens maar oral spekboom kan plant? Nee, dit geld net in gebiede waar die plante hoofsaaklik weens oorbeweiding veral deur boerbokke, soos by Vanwyksdorp en Calitzdorp in die Klein-Karoo en in groot dele van die Oos-Kaap uitgedun is. Dit kan gerus in tuine en op skoolterreine aangeplant word, maar nie in die veld waar dit ander inheemse plantegroei gaan verdring nie.
Spekboom is 'n wonderlike en dankbare tuinplant, want dit verg min water en onderhoud en mens kan selfs die blare eet. Let daarop dat dit in goedgedreineerde grond geplant moet word - spekboom hou nie van nat voete nie, want dan vrot die plant.
Dit hou ook nie van uiterste koue nie is kwesbaar vir ryp.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'