RIVERSDAL NUUS - Vyf skuts van Riversdal luggeweer-skietklub het 11 medaljes huistoe gebring nadat hulle van Vrydag 5 en Saterdag 6 Oktober aan die Suid-Afrikaanse luggeweer-kampioenskap in Durban deelgeneem het.
Dié span het top prestasies behaal met Luan Serfontein wat tans die jongste Suid-Afrikaanse kampioen van die Westelike-provinsie is. Hy is 11 jaar oud, maar het in die o.14 ouderdomsgroep deelgeneem. Hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt en skiet 'n eerste plek los in die o.14 10m individuele staandissipline, verower goud in die 3p-span o.14 en ontvang brons in die o.14 3p individuele item.
Die meisies van dié klub staan nie terug nie en Petra Crafford het binne vier kompetisies haar W.P.-kleure verwerf. Tydens die kampioenskap kry haar o.14 span goud in die 3p staandissipline en sy wen brons in die o.14 en 10m individuele staandissipline. Sy skiet ook vir die o.16 span wat 'n silwer wen.
Tydens die S.A. kampioenskap verwerf Linay-Monicque Noëth haar W.P.-kleure na die tweede ronde. As 12-jarige het sy o.14 deelgeneem en in spanverband goud vir 3p staan, silwer vir individuele 10m staan en 'n sewende plek vir die individuele 3p ontvang.
Johanné van der Vyver (o.16) eindig derde in die 3p individuele item. Sy wen egter 'n silwer vir 10m staan en 10m spandissiplines.
Cyrilene Coetzee het aan die 3p individuele item deelgeneem, 'n vyfde plek gekry vir 10m individuele staandissipline en silwer vir 10m span ontvang.
Van links spog die span met hul medaljes, Petra Crafford, Johanné van der Vyver, Luan Serfontein, Cyrilene Coetzee en Linay-Monicque Noëth.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'