Update
RIVERSDAL NUUS - Riversdal het vandeesweek sy hart oopgemaak en sy ware siel ontbloot. Inwoners van dié stil dorpie het spontaan gereageer op die voorbladberig in Suid-Kaap Forum van Vrydag 19 Mei waarin ons 'n beroep op mense gedoen het om kos te skenk vir Rebecca Johnson se sopkombuis in Kwanokuthula.
Uit die nederige klein houtkombuisie het Rebecca en haar regterhand, Caroline Page, sedert Maart aan sowat 300 mense, hoofsaaklik bejaardes en jong kindertjies, drie maal 'n week kos voorsien.
Maar toe droog die geld en kosvoorraad op. Becca's Soup Kitchen moes noodgedwonge sy deure letterlik toemaak, want honger mense het steeds kom toustaan vir iets om te eet.
Maar omgeemense met harte van goud het drupsgewys by die koerantkantoor in Heidelbergweg 29 begin opdaag met sakke kos. Ná 'n aanvanklike stadige begin het die stroompie teen Maandag al sterker begin vloei en teen Dinsdagmiddag in 'n kostsoenami in die kleine ontaard.
Barmhartige Samaritane met oop hande, warm harte en 'n liefde vir hul medemens in nood het hul bydraes gebring.
Party met ruim skenkings; ander dalk net 'n klein sakkie met 'n paar items in wat hulle waarskynlik ook moes afknyp en oë toemaak, maar alles geskenk met 'n gesindheid wat boekdele spreek van hul empatie en omgee vir ander in nood.
Onder die weldoeners was boere, 'n afgetrede mediese dokter en oudshoolhoof, kleinsake-eienaars, huisvroue, heelwat pensionarisse - doodgewone, goedhartige inwoners. Nie een wou hul name genoem hê of vir 'n foto met die skenkings poseer nie. Dit vertel darem baie van dié mense se karakter en ingesteldheid.
Danksy haar geloof in haar medemens het 'n jong "huisvrou," wat ook verkies het om anoniem te bly, benewens 'n stewige kospakkie R300 in kontant gelos met 'n kort nota: Vir gas.
Toe loop die trane in die kantoor.
En Rebecca se gasbottel is weer vol. Nou kan daar weer op groot skaal in daai piepklein kombuisie gekook word.
Maar die goeie nuus het nie daar opgehou nie. 'n Spiksplinternuwe kookpot is ook hier kom aflaai.
Die Riversdal Spar se skenking kan net met een woord opgesom word: rojaal. Dis veel, veel meer as wat enigeen ooit verwag het. Gul.
Die uitdrukking op Rebecca se gesig met die aflaaislag was kosbaar. Stomgeslaan. Oë koeëlrond. "Ai meneer, die Here was goed vir ons. Hy sal Riversdal se mense seën."
Sou enige gesoute Hollywood-filmvervaardiger dit op die groot doek kon vasvang ...
Hier is 'n fraksie van, onder andere, die vars groente, sopmengsels en blikkieskos wat die omgeemense van Riversdal met hul warm harte en oop hande vir Becca's Soup Kitchen in Kwanokuthula geskenk het. Foto: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’