Update
STILBAAI NUUS - Die Soetfontein Senior Klub het Dinsdag 26 September 'n jolige Erfenisdag-feesviering aangebied vir die senior burgers van Melkhoutfontein.
Sharon Davids het uit haar pad gegaan om die saal by Soeterus pragtig te versier met goeters uit die ou dae en selfs die musiek het daarby gepas.
Sharon, Chrysel Conradie en Joan Rossouw het moeite gedoen, nie net met die dag se reëlings nie, maar ook met hulle uitrustings uit vervloë dae.
Chrysel het die lagspiere geprikkel met haar kort opvoering van die vrou wat haar mooimaak voordat sy uitgaan dorp toe en toe David October sy kitaar uitpluk was die gort gaar. Daar is behoorlik geskoffel en gesing.
Sharon het die verlange na hulle kindertyd mooi saamgevat toe sy onthou het hoe hulle as kinders saam met mammie af is rivier toe om die wasgoed te was. Die sorgvrye tye in Melkhoutfontein toe kinders en vroue sonder enige vrees, selfs laatnag, in die strate kon wees. Melklhoutfontein was 'n vissersdorpie en die mans het die rivier opgekom met hulle platboomskuite gelaai met die vis.
Groentesmouse het oor die rivier gekom en groente tussen die huise verkoop.
Sondae is die hele gesin kerk toe.
Vir hulle as kinders was die hoogtepunt rondom Kersfees.
Gewoonlik het drie gesinne 'n bakkie gehuur en dan het hulle vir die heeldag see toe gegaan en piekniek gehou. Die dag is afgesluit met heerlike potjiekos wat voorberei is deur David October en sy vrou Joan.
Die saal was pragtig versier.
Heerlike borde potjiekos is vir die senior burgers voorgesit.s.
Sharon Davids vertel bietjie van Melkhoutfontein in die ou dae.
Vorige artikel: Soetfontein Senior Klub se Erfenisdagvieringe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’