RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum het in verlede week se uitgawe berig dat groot dele van Hessequa voortaan deur kameras gedek sal word met die doel om misdaad te voorkom.
Op 'n navraag aan die koerant op sosiale media, het Johan Crous, voorsitter van Goukou-buurt- en plaaswag, verduidelik die kameras word deur die internasionale VISEC-program wat deur NASA vir monitering ontwerp is, beheer. Dit sal gedoen word met nog vyf voertuiguitkenningskameras (LPR) en 40 oorsigkameras (overview) wat oral in die streek opgerig gaan word om veral die beweging van verdagte voertuie te moniteer.
Die LPR-kameras het toegang tot al die voertuigregistrasienommers wat op NaTIS (National Administration Traffic Information System) geregistreer is.
Sodra 'n geregistreerde voertuig met 'n misdaad verbind word, stuur die LPR-kamera 'n boodskap na 'n sentrale kontrolekamer by VISEC se hoofkantoor. Vandaar word die inligting dat die voertuig gesoek word, na ten minste 10 telefoonnommers, wat geregistreer is om dit te ontvang, uitgestuur.
In die geval van die Goukou-buurt- en plaaswag is dit dan dié sekerheidsbeen van AfriForum, 'n geregistreerde nie-winsgewende gemeenskapsorganisasie, wat ingelig word.
Die kamera het die vermoë om 6,5 miljoen nommerplate binne 43 sekondes te lees en te identifiseer.
Daar is dus nie sprake van die skending van privaatheid nie, want die inligting is reeds op NaTIS geregistreer.
Slegs VISEC LOGG, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en goedgekeurde sekerheidsinstansies en persone binne die instansies, soos Goukou-buurt- en plaaswag, het toegang tot die inligting wat aangewend word om die gemeenskap teen misdaad te beskerm.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'