Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEOS - Nuwe veiligheidskameras gaan binnekort groot dele van Hessequa dag en nag dophou.
“Veiligheid in die streek het ’n belangrike hupstoot gekry toe die munisipaliteit toestemming verleen het dat nog vyf voertuiguitkenningskameras (LPR) en 40 oorsigkameras (overview) oral in die streek opgerig mag word,” sê Johan Crous, voorsitter van die Goukou-buurt-en plaaswag.
Die munisipaliteit het die punte waar die vyf LPR kameras opgerig gaan word, goedgekeur en sal die pale en elektrisiteit daarvoor verskaf.
Die Goukou-buurt- en plaaswag sal self energie met sonpanele vir die oorsigkameras voorsien.
“Dit gaan oor die veiligheid van die gemeenskap, wat bereid is om geldelik by te dra vir die aankoop van die kameras.”
Die twee soorte kameras sluit die duurder voertuiguitkenningskameras (Licence Plate Recognition - LPR) en die goedkoper oorsigkameras (overview) in.
Die LPR-kameras herken die registrasienommer van ’n voertuig en stuur die inligting direk aan gemagtigde persone, wat dadelik daarop reageer.
Die oorsig-kameras neem ’n groter gebied af en die inligting word tans na ’n beheerkamer gestuur, waar dit op ’n skerm gemoniteer word.
Die huur van kameras en internettoegang kos R350 per maand per kamera. “Dis duur, maar die suksesse is groot en die koste geregverdig.”
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Crous is sewe gesteelde voertuie die afgelope twee weke met behulp van LPR-kameras teruggekry. Dit sluit onder meer ’n bakkie, wat in Diep Rivier as gesteel aangemeld is, in. Die bakkie is op Riviersonderend en Swellendam afgeneem en op Heidelberg deur die buurtwagtak daar onder leiding van Kobus Willemse onderskep. Die polisie het die verdagte in hegtenis geneem.
’n Rooi City Golf wat op 31 Julie in Riversdal gesteel is, is die oomblik toe die registrasienommer op die stelsel ingelees is, op Ashton afgeneem en kort daarna in Worcester gevind.
Die hele Hessequa het tans tweerigtingradio-dekking. Suid-Kaap Forum het in April vanjaar berig dat 85% van die streek in daardie stadium dekking gehad het.
“Ons is trots om te sê dat die hele Hessequa se boere, plaaswag en polisie tans met tweerigtingradio’s met mekaar in verbinding is. Enigiemand kan in 'n noodsituasie onmiddelik hulp ontbied.”
Enigiemand wat deel van die veiligheidsnetwerk wil word, kan by AfriForum aansluit. Kontak Johan Crous (buurtwag) by 084 587 2783 of Nita Wessels (plaaswag) by 082 660 1121 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'