Update
RIVERSDAL NUUS - Community Animal Rescue Society (CARS) sal Saterdag 14 Julie inentings vir honde en katte gee ter viering van Mandeladag.
Die inentings is nie gratis nie en hang van die dier-eienaar se omstandighede af. 'n Donasie word van SASSA-pensioenarisse gevra en andere moet 'n minimum van R75 per inenting betaal. Salarisstrokies ter stawing moet getoon word.
CARS sal vanaf 08:00 tot 09:30 by die Anna Lupini-gemeenskapsaal in Kwanokuthula wees. Daarna sal hulle weer by Riverville van 10:00 tot 11:30 inentings gee. Hoewel die organisasie baie vir die gemeenskap se diere doen, het hulle die gemeenskap se hulp nodig.
Buiten die inentings en dipdae wat hulle hou, red en versorg hulle ook honde en katte. Huidig moet nog twee honde aangeneem word.
Benji en Tessa is honde wat deur CARS versorg word. Benji is 'n reun, 10 maande oud en reeds gesteriliseer. Tessa is 'n ses maande oue teef. Sy moet nog gesteriliseer word.
Hoewel Benji nog effens skaam is, is hy baie liefdevol en gehoorsaam. Hy kom goed oor die weg met ander honde en katte. Tessa sal dadelik jou hart met haar vriendelike en liefdevolle geaardheid steel. Sy kom ook goed met honde en katte oor die weg. Dit sal ideaal wees indien hulle deur dieselfde eienaar aangeneem kan word.
Vir meer inligting skakel Sandra Lotz by 082 962 1831.
Lees 'n vorige artikel: Tessa en Benji soek 'n liefdevolle huis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'