RIVERSDAL NUUS - Benji, ’n 10-maande-oue reun en gesteriliseer, asook Tessa, ’n ses-maande-oue teef wat nog gesteriliseer word, soek albei ’n goeie tuiste met liefdevolle eienaars.
Albei word deur Community Animal Rescue Society (CARS) versorg. Hoewel Benji nog effens skaam is, is hy baie liefdevol en gehoorsaam.
Hy kom goed met ander honde en katte oor die weg.
Tessa sal jou hart met haar vriendelike en liefdevolle geaardheid steel. Sy kom ook goed met honde en katte oor die weg. Dit sal ideaal wees indien hulle deur dieselfde eienaar aangeneem kan word.
CARS sal Saterdag 14 Julie inentings vir honde en katte gee ter viering van Nelson Mandela Dag. Die inentings is nie gratis nie, maar 'n persoon se inkomste bepaal hoeveel hulle kan betaal. Sassa pensionarisse kry afslag.
Hulle sal vanaf 08:00 tot 09:30 by die Anna Lupini-gemeenskapsaal in Kwanokuthula wees. Daarna sal hulle weer by Riverville van 10:00 tot 11:30 inentings gee.
Hoewel CARS baie vir die gemeenskap se diere doen, het hulle die gemeenskap se hulp nodig. Buiten die inentings en dipdae wat hulle hou, red en versorg hulle ook honde en katte.
Vir meer inligting skakel Sandra Lotz by 082 962 1831.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'