HEIDELBERG NUUS - Verkragting: 'n 24-Jarige man is Saterdag 23 Februarie gearresteer op aanklag van beweerde verkragting van 'n 15-jarige meisie.
Hy het Maandag 25 Februarie in die Heidelberg-landdroshof verskyn. Die saak is tot 5 Maart uitgestel. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder, noem dat dié soort misdade toeneem en waarsku alle vroue om nie laat saans alleen op straat te wees nie.
Seksuele aanranding
Die saak teen 'n 55-jarige man van Heidelberg, wat Dinsdag 19 Februarie weer vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn het, is tot Dinsdag 19 Maart uitgestel. Hy is borgtog toegestaan en is op eie verantwoordelikheid vrygelaat, maar mag onder geen omstandighede met die slagoffer in aanraking kom nie. Die beskuldigde is vroeër vanjaar gearresteer na beweerde seksuele aanrandings op sy meisie se 11-jarige dogter, wat oor 'n tydperk van twee jaar strek.
Dronkbestuur
'n Opvoeder van Heidelberg het Donderdag 21 Februarie in die hof op aanklag van dronkbestuur verskyn. Hy verskyn weer op 11 Maart
Huisbraak
Bradley Pieters het Donderdag 21 Februarie op twee aanklagte van huisbraak verskyn nadat hy by twee wonings op Slangrivier toegang sonder toestemming verkry het. Die saak is tot 5 Maart uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Aanranding ernstig
Chanté Boezak (27) het Donderdag 21 Februarie op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in Heidelberg-landdroshof verskyn. Sy is op eie verantwoordelikheid vrygelaat en is gewaarsku om weer op 5 Maart in die hof te verskyn.
Sy het geen vorige veroordelings nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'