HEIDELBERG NUUS - Die straat voor die stadsaal in Heidelberg het Donderdagaand 21 September ‘n Europese stemming, geur en klank gekry tydens die sesde Hessequa-Harmonie-kunstefees.
Sowat 200 mense het by die swierige gedekte tafel, wat 33 meter lank was, aangesit, geteug aan ‘n verskeidenheid wyne en gesmul aan gourmet-geregte uit die kombuis van Hanli en Shani Faddel van Riversdal.
Op die spyskaart was ‘n voorgereg met pannekoekies wat met gepluiste, gerookte varknek en slaai gevul is.
Die hoofgereg was ‘n stewige tradisionele roosterkoek wat gehalveer is. Die een helfte het gebult met ’n geurige uie-marmelade, gebraaide spek en kaas.
Die ander helfte was ligter met hoender, sampioene, groenrissies, tamatie, blaarslaai en slaairoom gelaai.
Die roosterkoek is in tema-gedrewe waspapier toegedraai. Daarna is die nagereg bedien: mini-doughnuts, gegeur met room, sjokolade en kaneel en gesprinkel met neute.
Die vlytige, vriendelike kelners en kelnerinne.
Die organiseerder, Hansie Saayman, ‘n kunsonderwyser, en van sy leerders, wat as die vlytige en vriendelike kelners en kelnerinne opgetree het, het die verrigtinge flink laat verloop.
Tussendeur is die gaste op die ritme van marimba-musiek, die akkordeon van Stanislav Angelov, die viool van Veronica Bell en die stemme van die sopraan Lynelle Kenned en die baritons Nëil Rademan en Corneil Muller met musiek in verskillende genres vermaak.
Die fees duur nog tot 23 September.
Die tafel word voor die stadsaal in Heidelberg voorberei vir Donderdagaand se smulfees.
Die gourmet-spyskaart.
Dié treffende beeldkuns, deur Louise Kluyts, het die gaste met hul aankoms verwelkom. Sy (die “pop”) is nou al nie-amptelik die “Feesflerrie ” gedoop!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’