STILBAAI NUUS - Weens die flink optrede van polisielede van die kusdorp is verskeie smokkelaars aangekeer en suksesvol voor die hof gebring.
Op 14 April is Bhekuyise Ntsalaze (51) vir onwettige drankhandel in hegtenis geneem.
Die verdagte handelaar het reeds verskeie kere tevore in die plaaslike landdroshof voorgekom, maar op 26 April is sy borgtogaansoek suksesvol deur die staat teengestaan. Hy het op 10 Mei 2019 op aanklagte van die onwettige handeldryf in drank skuldig gepleit en sal eersdaags gevonnis word.
Op 11 Mei is 'n polisie-optrede van stapel gestuur waartydens drie vermeende dwelmverskaffers gearresteer is. Nombeko Solani, Nonthemba Solani en Sipho Mchunu is op heterdaad met 'n hoeveelheid Mandrax, tik en dagga in hul besit betrap terwyl hulle na Melkhoutfontein onderweg was om die dwelms af te lewer. Daar is beslag gelê op kontant en die voertuig waarin hulle gery het. Hulle bly in aanhouding hangende 'n formele borgaansoek.
Op 15 Mei het polisielede nog vier verdagtes vir onwettige handeldryf in dwelms in hegtenis geneem. Gary Bester (40), Anthony van Heerden (30), Chalton Daniels (20) en Elizabeth October (44) het op 17 Mei 2019 op aanklagte van dwelmhandel verskyn. October is op borgtog van R1 000 vrygelaat, terwyl die ander verdagtes in aanhouding bly tot 'n formele borgaansoek gebring word.
Kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder, het sy tevredenheid met die toewyding en pligsgetrouheid van konsts. Pietersen en Zwiegelaar, uitgespreek.
Hy het die gemeenskap verseker dat die polisie alles in hul vermoë sal doen om hulle teen dwelm- en dranksmokkelaars te beskerm.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'