HESSEQUA NUUS - Met die aanbreek van lente is koudbloedige reptiele soos slange besig om meer aktief en sigbaar te raak.
Volgens Nita Wessels van die Askop Wildsplaas buite Riversdal spandeer mense meer tyd buite met die warmer weer en die moontlikheid om 'n slang teë te kom word al hoe groter.
"Slange is baie belangrik vir ons natuurlike omgewing omdat hulle die rotte, muise en vele ander ongediertes wat siektes kan oordra onder beheer hou," sê Wessels.
Visdamme, bou- en tuinrommel, kliptuine en stapels hout lok ongediertes wat slange nader laat kom vir kos.
Dis plekke waar die reptiele ongesteurd kan eet en Wessels wys daarop dat slange nie van konfrontasies hou nie. Hulle val slegs aan indien hulle bedreig voel.
Sy het die volgende wenke
- Hou gras kort en bome gesnoei.
- Bly kalm indien 'n slang gewaar word en probeer wegkom.
- Hou dop waar die dier heengaan indien hy beweeg.
- Moenie self die slang probeer vang nie.
- Kontak CapeNature of die plaaslike polisie vir bystand. Bekende giftige slange in die Hessequa-gebied is die Kaapse kobra (ook bekend as geelslang, bruinkapel, koperkapel, silwerkapel, lepelkop), pofadder, bergadder, nagadder (kan maklik met nie-giftige eiervreter verwar word) en boomslang.
Nie-giftige slange sluit in die bruin huisslang, olyf huisslang, rooilippie, tabakroller, eiervreter en molslang (kan baie aggressief wees en 'n lelike byt gee).
Vir hulp met identifisering en/of bystand met verwydering van slange kan Wessels by 082 660 1121 of by askop.nita@gmail.com gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'