Update
RIVERSDAL NUUS - Hoe hou 'n mens jou en jou kinders tydens die inperkingstydperk op die plaas besig?
Betsie van Noordwyk, 'n plaasvrou, sê hulle geniet die afsondering op die plaas.
"Ons is darem gelukkig in die sin dat ons werf mos groter as dorpsmense s'n is en dit voel nie of ons in die huis opgesluit is nie. Ons kan uitgaan sonder dat 'n siel naby is."
Dagtake gaan soos gewoonlik voort. "Ons is maar versigtig en vermy die dorp - ek sal oorleef met gevriesde groente en vleis vir 'n wyle. Die waspoeier het opgeraak, so ek rasper maar Sunlightseep."
Sy probeer ook die kinders, Elizma (11) en Pieter-Ernest (10) sover kry om skoolwerk te doen. "Maar ai, dis enige kind se droom om op die plaas te wees, so dit werk nie om hulle te kry om stil te sit nie. Sodra hulle verveeld raak, jaag jy hulle buitentoe."
Verder speel hulle kaartspeletjies en bou 3D-legkaarte. "Hulle moet ook help skoonmaak - dis immers hulle wat so lekker kan omkrap!"
Soos almal is hulle bekommerd oor die verspreiding van die virus. "Ons was gereeld hande en maak skoon asof daar op alles kieme is."
'n Werker kom in vir normale take soos om die kalwers en varke kos gee. "Ons hou by die reëls van maskers dra en hande was sodra ons tussen ander mense soos ons werkers is."
Sy meen as sy dit kan regkry, gaan sy heeltyd by die huis bly.
"Die feit dat mense nie die erns van die saak ter harte neem nie, maak my kwaad. Dis niks as jy nie vir jou eie lewe omgee nie, maar dink aan ander mense. Sal jy met jouself kan saamleef as jy iemand doodry? Wat is die verskil as jy onverantwoordelik met die virus is en iemand gaan dood..."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'