Op die helder someroggend was die klowe en koppe die stil getuies van die laaste Kersspel deur die kinders en 'n era wat verby is. Die suiwer klanke van die Betlehemster en Stille Nag het deur die fynbosvelde getrek en almal se harte geroer.
Mnr. Patrick van den Berg het 'n kort oorsig oor die geskiedenis van die skool gegee en in sy gebed die Here gedank en sy seën afgebid op die toekoms.
Oud-opvoeders wat die geleentheid bygewoon het, is mee. Marleen Potgieter en Anneke Joubert. Me. Felicity Adams, 'n oud-leerder het 'n ernstige, maar besielende boodskap aan veral die ouers oorgedra. Sy is vandag self 'n opvoeder by Goedgegun Primêr en het haar ma bedank en as voorbeeld van inspirasie voorgehou aan ander ma's.
Die skoolklok is formeel aan mnr. Attie van den Berg, eienaar van die grond en geboue oorhandig. Die huidige leerdertal is tien, plus drie graad R-leerders.
Spesiale sertifikate is aan hulle oorhandig. Almal gaan vanaf 2013 na Molenrivier Primêre skool en van 'n busdiens gebruik gemaak. Me. Elmien van der Nest was die afgelope 16 jaar aan die stuur van sake en vir baie jare alleen opvoeder van graad 1 tot 6, tot daar in 2010 'n tweede opvoeder aangestel is.
Ore, oë, tande, siekte, dood. begrafnisse, troues, geboortes, byeswerm in die klaskamer, slange op die skoolgrond, vuur, vloedreëns - noem maar op, sy was daar. Sy en haar groen bakkie (taxi) sal verseker baie gemis word! Sy gaan haar volgende jaar by die Voorwaarts-personeel aansluit en in die graad 5-klas haar ding doen.
Kersvader was 'n gereelde gas by Langkloof Primêr en was weer vir oulaas op sy pos. Heerlike eet- en drinkgoedjies is na die verrigtinge geniet. So het almal maar teen die koppie waar die skooltjie staan afgeskuif en vir oulaas deur die hekkie geloop waarop staan: Langkloof Primêr.

Die klok word oorhandig.